VODACOM WIL VERBETER IN VAKANSIEPLEKKE

Die Valies en Vrystaters sal in hul komende Kaapse seevakansie na hartelus kan Facebook, Twitter en foto’s oplaai.
Die selfoonoperateur Vodacom gaan mobiele selfoontorings by gewilde vakansiedorpe soos Hermanus, Onrus en Stilbaai, asook aan die Weskus oprig om sy netwerk in die Desembervakansie in dié gebiede te versterk.
Alberts Breed, bestuurder van Vodacom in die Wes-Kaap, sê van die dorpe met sowat 10 000 inwoners het in vakansietye tot dubbel soveel mense. Vodacom het in die verlede probleme gehad om die skerp groei in data- en selfoongebruik in dié tyd te hanteer. Tydelike basisstasies gaan gebruik word wat ná die vakansie ook by spesiale geleenthede soos feeste of sportgeleenthede gebruik kan word waar ’n hoë vraag na breëband-internettoegang verwag word. “Elke kind het ’n foon en wil op Facebook gaan en foto’s oplaai, so ons wil die vermoë hê om dié groeiende dataverkeer te kan hanteer.” Volgens Breed gaan R180 miljoen nog in dié boekjaar in die Wes-Kaap bestee word om meer as 400 ekstra basisstasies op te rig. Die grootste struikelblok is inwoners wat gekant is teen die bou van basisstasies naby hulle weens vrese oor bestraling en die estetika. Maar Breed verduidelik as daar meer basisstasies in ’n gebied is, hoef die selfoon wat jy teen jou kop hou nie so hard te werk op soek na ’n sein nie. Die batteryleeftyd is langer, en die spoed en dekking van die netwerk is beter.
Van: Stilbaai Sakekamer

Print Friendly, PDF & Email