STILBAAI HOSPITAAL

14

Die projekspan wil hiermee weereens baie dankie sê vir die oorweldigende belangstelling, entoesiasme en optimisme oor hierdie omvangryke mediese projek wat in ‘n lang gevoelde behoefte en leemte van die gemeenskap en omgewing sal voorsien.

Die projekspan is steeds besig met die voltooiing van die bouwerk en is versigtig optimisties dat die bouprojek teen die einde van die jaar voltooi sal wees, waarna die volle mediese fasiliteite in bedryf gestel sal word gedurende 2016.

U sal egter verstaan en waardering daarvoor hê dat daar baie faktore buite die beheer van die projekspan is wat die openingsdatum beïnvloed. U sal egter betyds daaroor ingelig word.

Die sukses van die hospitaal sal uiteindelik deur die bedryfsmaatskappy se bestuur bepaal word. Ons is egter aangenaam verras met die oorweldigende belangstelling in die verskeie poste wat later beskikbaar gaan kom. Na die mening van die projekspan sal dit op hierdie vroeë stadium egter onwys wees om nou al die poste te begin adverteer.
Vordering van die Mediese Suites aangrensend tot hospitaal. Die projekspan is tans besig met die beplanning van die verskeie dokters spreekkamers en is 2 van die 12 spreekkamers reeds geneem.

Brokkies nuttige inligting :
*Gedurende Augustus 2015 het die Hessequa Munisipaliteit nie minder nie as 64 bouplanne goedgekeur. Dit dui op voortgesette belangstelling in die groei en ontwikkeling van ons gemeenskap.

*Daar is al 24 huise binne in die Stilbaai Duine Ontwikkeling, aangrensend aan Stilbaai Privaat Hospitaal, opgerig.

*Van die 220 erwe by Stilbaai Duine Ontwikkeling wat aanvanklik te koop aangebied is, is nog slegs 7 (sewe) erwe beskikbaar. Uitstekende ligging & loopafstand na gewilde swemstrand.

*Daar word begin met die opgradering van die toegangspad vanaf N2 na Stilbaai, gedurende Januarie 2016.
Nico Viljoen
Besturende Direkteur

Print Friendly, PDF & Email