VAN DIE REDAKSIE

vdr

Klere het ‘n groot sielkundige invloed op ‘n mens en as jy goed voel in iets, straal jy selfvertroue uit en jy sien kans vir enigiets.

So ken ons almal daardie dae wat jy voor jou kas staan en jy net mooi niks kan kry wat jou mooi laat lyk en mooi laat voel nie. Ons vrouens kla maklik “ek is te vet” of “ek het niks om aan te trek nie.
Jy voel ongemaklik en is ongelukkig in jou lyf, so amper asof hy nie aan jou behoort nie.

Jy kyk in die spieël en jy dink, “hoe op aarde het dit gebeur.…. maar erger nog, hoe het ek dit toegelaat “ ?

Dikwels lyk vrouens op die oog af netjies en goed versorg, maar steeds kla hulle oor hoe hulle lyk en steeds is hulle nie gelukkig nie.
Kry dus eers jou kop en gesindheid reg anders maak dit nie saak hoe jy lyk en wat jy aantrek nie, jy gaan ongelukkig bly.

Neem beheer en doen wat nodig is om jou selfvertroue ‘n hupstoot te gee want ….

‘n Goeie selfbeeld maak die verskil !!

SANTA SHOEBOX PROJEK 2015

18

Verryk hierdie jaar ‘n behoeftige kind se lewe, en skenk ‘n bietjie blydskap in ‘n boks oor die Kersgety. Die Santa Shoebox Projek is ‘n nie-winsgewende organisasie wat sedert 2006 elke jaar geskenke insamel vir duisende minder bevoorregte kinders by sorgorganisasies dwarsoor die land.  Hierdie projek bied ‘n gulde geleentheid aan ieder en elk om ‘n bydrae te lewer waar dit regtig saak maak.

Die Santa Shoebox Projek word gesien as ‘n geleentheid om die unieke filosofie van ‘leer jou kind die vreugde daarvan om te gee’ in die praktyk toe te pas. Saam-saam kan ma (of pa) en kind, ‘n kleinding se naam op die webtuiste kies, die geskenk koop en die skoenboks versier, en stuur aan die klein mensie wat moontlik dalk nog nooit voorheen ‘n Kersgeskenk ontvang het nie.

Wat die projek uniek maak, is dat elke skenker die naam, ouderdom, geslag, en instelling van die kind ken, vir wie hy of sy die geskenk koop. Bo en behalwe die verspreiding van die geskenke en bestuur van die landwye netwerk, verskaf die organiseerders ook riglyne vir die inhoud van elke geskenkboks, om te verseker dat elke kind ‘n gepaste geskenk kry. Die bokse word volgepak met noodsaaklikhede soos ‘n waslap en tandeborsel, en dan ook ‘n lekker speelding en uitrusting, soetgoed en meer.

So Werk Dit
Om deel te neem registreer op die Santa Shoebox Projek webwerf, waar ‘n stap-vir-stap gids jou deur die proses sal neem.

Skenkers word aangemoedig om:
NOUal te registreer by www.santashoebox.co.za

Kies ‘n naam (of meer as een!) en gerieflike aflaaipunt.

Versier en vul die skoenboks volgens die riglyne.

Lewer dit op die bepaalde datums by sekere aflaaipunte af. Van hieraf word die Santa skoenbokse na verskillende tehuise en sentrums dwarsoor die land gestuur.

Navrae: Stilbaai, Johannie 028 754 1655
Riversdal, Meghann 072 797 2544.

STILBAAI KRAGTOEVOERLYN

Die Stilbaai hoof kragtoevoerlyn word opgradeer van 11Kv na 66Kv om die kragprobleme met hoë aanvraag tydens die spitsseisoentye aan te spreek asook die nuwe ontwikkeling wat ontsluit te akkommodeer.

Die elektrisiteitsopgradering is ʼn drie jaar projek en word daar beoog om in die 2015/2016 boekjaar van hierdie fase van netwerk opgraderings te voltooi.

Die totale beskikbare elektrisiteit kapasiteit van Stilbaai sal verhoog word met ten minste 12000kVA wat meer as dubbel die huidige elektriese kapasiteit is.
Die opgraderingsprojek beloop ongeveer R32 miljoen rand en sal die nuwe ontwikkelinge die grootste gedeelte van die kragtoevoerlyn betaal.

Versterking aan die bestaande lyne sal aangebring word om die nodige toevoer te akkommodeer.

Die kragtoevoerlyn is ongeveer 99% voltooi en moet die punte gekoppel word aan Eskom en die nuwe substasie. Die 66/11Kv transformator is geïnstalleer en die plasing van die nodige skakeltuig vind tans plaas.
Die kabelretikulasie en die bou van ʼn skakelsubstasie is tans in proses en poog die Ingenieurs om die opgradering teen Maart/April 2016 te voltooi en in werking te tree.