JONGENSFONTEIN

6

‘n Unieke aftree juweel. Jongensfontein is ‘n gesogte veilige vakansie bestemming en bekend vir sy ongeskonde natuurskoon, en ‘n karavaanpark wat onlangs beoordeel is as die tweede beste langs die Suid-Afrikaanse kuslyn. Jongensfontein is geleë ongeveer 350km vanaf Kaapstad en 150km vanaf George.

Weens die unieke dorpsuitleg het byna alle wonings ‘n uitsig op die Indiese oseaan en word inwoners getrakteer op ‘n asemrowende kaleidoskoop van kleur tydens sonsopkoms en sonsondergang gedurende Desember en Januarie maande. Aktiwiteite— Jongensfontein is bekend onder branderplankryers en vind daar jaarliks verskeie kompetisies plaas. Kristalhelder poele is gesog vir snorkel, hengel en ander aktiwiteite. Die gewilde jaarlikse Galjoen Derby vind ook langs die kuslyn plaas.
Jongensfontein Kunsmark op 18 Desember 2015 en Jongensfontein Lanternloop op 31 Desember 2015.
Duisende besoekers besoek Jongensfontein gedurende die Desember Feestyd en is dit dan ook wanneer die gewilde Kunsmark op die hoofstrand plaasvind. Vir die afgelope 15 jaar vind dit plaas op die laaste Vrydag voor Kersdag en kan kuns, kos en vele van ongeveer 110 stalletjies besoek word.
Die Jongensfontein Inwonersvereniging koördineer die mark as deel van hulle fondsinsameling.
Hierdie jaar beoog die JIV om ‘n eerste Lanternloop te laat plaasvind op 31 Desember 2015 . Die mikpunt is om 1000 lanterns te verkoop en dan ‘n roete deur die dorp te stap onder begeleiding van ‘n blaasorkes. Dit is dan ook ‘n fondsinsamelingsprojek. Sien baniere en vakansie programme vir meer inligting. Kom stap saam as ‘n familie en sluit so die Oujaar af.
Kontakbesonderhede: Johan en Marie Lotter 082 789 4481

Kaartjies vir die Lanternloop is te koop vanaf 1 Desember 2015 by die volgende verkoopspunte:

STILBAAI
Toerismeburo
Karavaanpark
Stilbaai Kwekery
Stilbaai Slaghuis
Stilbaai Deli
Bay Beauty Salon
Allegaartjie

JONGENSFONTEIN
Karavaanpark
Seesig Kafee

Die kostes soos volg ; R50 vir volwassenes en R30 vir kinders.

Lanterns sal ook te koop wees op 18 Desember 2015 by die Jongensfontein Kunsmark. Alle lanterns moet afgehaal word op 31 Desember 2015 vanaf 10h00 te Jongensfontein Hoofstrand, by die sementblad langs die Jongensfontein Museum (voorheen die Stranddienshuisie). Almal moet asseblief hul kaartjies saambring wanneer hulle hul lanterns afhaal.

Die lanterns wat gebruik word, word verlig met LED liggies en gebruik dus batterye – dit is nie “floating lanterns” nie en daar is dus geen brandgevaar nie. •

Print Friendly, PDF & Email