VAKANSIE IN THAILAND

Foto

Daniel Franken, Janine Olivier, Ron en Yvette Schonfeldt was die reismaats met ’n vakansie na Thailand.
Hessequa Nuus het vir Daniel gevra om sy en sy medereisigers se indrukke as eerste keer besoekers aan die land met ons te deel.
Op 9 Mei arriveer ons op Singapore Internasionale Lughawe. Ons is ’n bietjie tam en vlugvoos na ‘n elfuur lange vlug vanaf Kaapstad, maar kyk opgewonde uit na die avontuur wat voorlê.
’n Rukkie later neem ons ons sitplekke in op ons tweede vlug van die dag. Hierdie keer na Phuket. Die vlug neem een uur.
Op die lughawe wag daar ’n vooraf bespreekte taxi wat ons na die hotel waar ons gaan bly, sal neem.
Die res van daardie dag het ons langs die swembad deurgebring en die weeklange besoek se uitstappies beplan. Ons was gelukkig om ’n vriendin te hê wat weer iemand geken het wat Thailand goed ken. Saam met haar kon ons ’n baie interessante reisplan uitwerk. As ons die uitstappies deur die hotel bespreek het, of by die stalletjies wat oral is, sou dit baie duurder gekos het.
10 Mei breek aan en ons begin die dag op ’n vaart met ’n veerboot wat ons na die bekende Phi Phi-eilande neem. Tydens die vaart, doen ons ook by drie ander eilande aan. So besoek ons die Mosquito-, Bambo- en Monkey-eilande en vertoef ons by Viking Cave waar ons snorkel en net die spierwit strande geniet.
Na ’n heerlike buffet-middagete op die Phi Phi Don- eiland sit ons die vaart voort na Hat Maya Bay, die hoofstrand van die Phi Phi Ley-eiland, waar die bekende fliek The Beach ( 2000 VSA) met Leonardo DiCarpio en Virginie Ledoyen as hoofkarakters, geskiet is.
Kom ons gesels gou oor die kos in Thailand. Wees voorbereid daarop dat die kos van hierdie land baie warm is en vreeslik brand. Sou jy nie van ‘hot en very hot’ hou nie, hou verby. Die meeste restaurante bedien ook ander Oosterse kosse. Die geregte wat ’n mens by die straatstalletjies kan koop, is baie geurig en veel goedkoper.
Vir 11 Mei het ons ’n halfdag safari vooruitbespreek wat die volgende aktiwiteite ingesluit het: “Ox Cart Riding, Elephant Trekking, Monkey Show, Fish Spa, Thai Cooking Class, Thai Boxing Show, Rice Farming and Canoeing”. Ons is besig, baie besig en geniet elke oomblik van die avonture. Besoekers aan ander lande reis mos om alles van daar te ervaar en te doen en so wil ons ook.
Daardie aand woon ons die Fantasia-vertoning by. Al wat ons gaan sê, is dat dit ’n ongelooflike ervaring was en dat elke voornemende besoeker aan Thailand die vertoning deel van hul reisplan moet maak.
Al is ons besig, is daar stil oomblikke waarin ’n mens oor allerhande dinge dink en een van die gedagtes wat by my opgekom het, was: Hoe kies jy ’n “travel buddy?” Ek kyk na my reismaats en besef dat ons so te sê dieselfde belangstellings deel, dat nie een van ons vol fiemies is nie. Die belangrikste raakpunt is dat nóg ek nóg my reisgenote bang is vir kultuurverskille. Ons wil ervaar hoe die land se mense leef. Ons wil hulle doen en late sover as wat ons kan, meemaak. Ons wil leer van hul leefwyse , hul kulturele gebruike, hul eetgewoontes, die land sien, ruik, voel en proe. Wat ons op straat ervaar is baie verskillend van wat die hotelle voorhou en aanbied en ons is bly dat ons die inisiatief gebruik het om dinge self te beleef en nie deel van ‘n toergroep was nie. Vir baie mense werk ‘n toergroep, maar ons wou self die besluite neem.
Om terug te gaan na die kies van ’n reismaat, moet elkeen weet dat julle mekaar vertrou en respekteer om sou ’n geit sy of haar kop uitsteek, dit dadelik aangespreek en uitgesorteer word en dat daar spasie vir en geduld is met mekaar se verskillende sienswyses.
Thailand se kraanwater drink jy nie, so ons het altyd gebottelde water by ons. Baie daarvan. Teen hierdie tyd weet ons dat daar geen drankwinkels in Thailand is nie. Alles wat jy nodig het, koop jy by die 7Eleven-winkels – kos, medisyne, wyn (wat amper onbekostigbaar is).
’n Besoek aan Thailand is nie goedkoop nie. Vir R100 kry jy 200 Thai Baht. Die land is bekend vir hulle bier en dit is verreweg die mees bekostigbare alkoholiese drankie. Die prys? R40 of 90 Thai Baht.
Dit is ook baie meer koste-effektief om geld by die OTM-kaartmasjiene te trek as om dit deur die bank te bespreek. Die kaartmasjiene is volop en gerieflik om te gebruik.
Op 12 Mei span ons weer die snelboot in om nog van die eilande te besoek. Op die reisplan vir die dag is die baie bekende James Bond-eiland waar The Man with a Golden Gun met Roger Moore en Britt Ekland (1974) in die hoofrolle verfilm is. Die James Bond Eiland is een van die ± 100 eilande wat deel is van die Phang Nga-baai wat 400 vk. meter groot is. Hierdie eilande haal merendeels die “Guiness Book Of Records” vir of hul skoonheid of snaakse eiland-vorm. Ons vaar ook met kano’s die grotte op Hong-eiland in. Beeldskoon!
Ons nuttig middagete op die Kho Panyi- eiland waarvan die nabygeleë drywende “Muslim Fishing Village” deel is.
Laasgenoemde vissersdorpie is op stelte gebou en die inwonerstal is 1685 (360 gesinne). Die dorpie is 200 jaar gelede deur drie Indonesiese vissers gevestig wat ’n nuwe blyplek gesoek het. Hulle het onderneem om te soek na die plek met die meeste vis om te vang. Sodra hulle die regte plek kry, sou hulle hul vestig en dan hul mede- Indonesiese vissers wat daar verby vaar soontoe lok deur ’n vlag op die berg te hys. So het al hoe meer siele hulle daar gevestig en is die Vallei se bynaam die Vallei van die Vlag. Hier word die lewenstyl van eenvoudig lewe in alle opsigte nagestreef. Waar die vissersindustrie vantevore haan gekraai het, het dit tans afgeneem tot 40% van indiensneming en word die res van die werkerstal opgeneem in die toeristebedryf op die eiland.
Die laaste eiland wat ons daardie dag besoek is die Lawa-eiland. Lawa is die Maleisiese woord vir mooi en dit is werklik ’n besonderse mooi eiland. Daar drink ons iets koels en swem na hartelus in die turkoois-blou water.
Die enigste dag wat ons nie uitstappies voor bespreek het nie is Vrydag 13 Mei. Ons vaar die stad in en doen inkopies by die markte in die strate en op die strande. Daar is letterlik ‘n massa van stalletjies om te besoek op die verskillende markte.
En so leer ons vier “travel buddies” dat die goedkoopste vervoermiddel die bromponie is. Huurgeld vir hele dag se gebruik is 150 Thai Baht. Hierdie bromponies is oral te vind en dit is nie snaaks om ’n hele gesin van vier op een te sien verbyjaag nie. Nog ’n les wat ons leer is dat jy nie die eerste beste “scooter” wat jy sien, huur nie. Die pryse verskil hemelsbreed van mekaar by die verskillende “ hiring lords” en die kriteria om ’n bromponie te huur is ’n opsie om oor te kibbel. Wag daarvoor! Jou paspoort bly in jou verhuurder se veilige bewaring totdat jy die ryding terugbesorg. Wanneer die bromponie terug is by die eienaar, word dit van alle kante af ondersoek vir enige skade wat veroorsaak is tydens die rit. Jy word blameer vir verf wat af is, duike en skrape. Of jy weet of jy die skade veroorsaak het of nie, jy protestreer nie, want sodra jy begin keel opsit, word die polisie, wat altyd naby is, geroep. Die uiteinde is dat jy gewoonlik “skuldig” is aan die ou en nuwe skade of daar is of nie. So jy betaal vir die skade, want jy wil jou paspoort terug hê en nie die nag agter die tralies deurbring nie. Volgende keer weet jy dat jy moet kibbel en foto’s neem van jou bromponie voor jy opklim en ry.
Ons besoek aan Thailand bereik sy halfmerktyd en op 14 Mei lê ons besoek af by die “Tiger Kingdom”. Hier kan ons foto’s neem van waar ons saam met tierwelpies en die groot tiere kuier. Die hoogtepunt van die besoek is dat ons aan die diere kan vat.
Vir die volgende dag, 15 Mei is ons bespreekte uitstappie na Phuket se bekendste uitkykpunt, Promphet Cape.
Ons besoek ook die indrukwekkende “Big Buddah”-eiland waar die beeld van Boeddah 45 meter hoog staan op die heuwel van Nakkerd en van vêraf te sien is.
’n Baie interssante uitstappie is na die Wat Chalong –tempel, die volgende besoekpunt. Hierdie tempel is een van die Phuketeilande se belangrikste bakens. Gelukkig was ons ingelig oor die kleredragskode wat vereis dat ons ons skoene buite laat moes en dat dames hul skouers moet bedek en langbroeke of knielengte rokke of rompe moet dra tydens die besoek aan die tempels.
Die laaste dag van ons besoek aan Phuket breek aan, 16 Mei. Ons doen ons laaste inkopies, kuier vir oulaas in die swembad en gaan daarna vir ’n Thai- masseersessie. Teen hierdie tyd is ons spiere al tam en lam en sien ons uit na die ontspanningsbederf wat heel bekostigbaar is. Die masseer –dienste is oral op die strande en op straat beskikbaar. As jy dink dat dit slonsig en onprofessioneel is, is dit ’n verkeerde aanname. Die afskortings is baie mooi ingerig met die regte masseertafels , linne en olies en hier kan jy jou oë rustig toemaak na die geruis van die see luister en enige bekommernis wat jy sou hê, opsy skuif vir ’n wyle. Salig!
Ons pak gou die laaste bagasie en om 20h00 is ons vasgegordel in ons sitplekke op die vlug terug na Suid-Afrika. Ons is gelukkig, lekker moeg, maar ontspanne en een kyk na my vriende en ek weet dat ons kan begin spaar en beplan om volgende jaar een van die ander eilande te besoek. Dankbaar en geseënd sak ons teen die rugleunings van ons sitplekke terug en weet die loods ken die pad huis toe.
Opsommend oor ons eerste besoek aan Thailand ’n gedagte of twee.
Reisigers wat Thailand vir die eerste keer besoek moet weet dat dit dwarsdeur die jaar baie warm is. Gedurende die warmste seisoen kan die temperature tot 43 grade styg en sak nie laer as 27 grade nie. Die gewildste tyd daar is gedurende November en Februarie wanneer ± 35 grade die hoogste is . Maar dan is alles soveel duurder…….
Die belangrikste items wat altyd in jou handsak moet wees is ‘n hoed en ’n baie goeie sonbeskermingsroom. Van laasgenoemde sommer baie.
Vir ons was die besoek aan Thailand nie so goedkoop soos wat baie mense dink nie. Onderhandel is die belangrikste woord in die reisigers-woordeboek.
Die mense van Thailand is baie vriendelik en sal alles in hul vermoë doen om jou vakansie so aangenaam moontlik te maak.

Sou jy my vra wat die lekkerste gedagte aan huis toe kom was, moet ek sê dat dit die feit is dat ons verkeersreëls en wetstoepassers daarvoor het.
Bon Voyage vir jou reis na Thailand.  

Print Friendly, PDF & Email

Leave a Reply