STILBAAI SE BLOMMEVROU

article-pic-1

Ons wil hierdie huisie op die plaas restoureer. Sita Kleinhans, Stilbaai se eie blommevrou se skrywe het baie belangstelling gelok onder lede van Stilbaai Bay of the Sleeping Beauty se “facebook”-blad. Sy het die pragtige foto wat by die berig verskyn op die blad geplaas met die opskrif soos hierbo vermeld.
Daar was trefslae wat hulp aangebied het met die restourasie en ander het onder die besonderse indruk van die foto voorgestel dat die die idilliese toneeltjie eers op skilderdoek vasgelê moet word voordat daar met die werk begin word.

Hessequa Nuus het met Sita se wederhelf, Louis gesels en hy het opgewonde vertel van die oorsprong van die huis op hul plaas Lunsklip, wat hulle beoog en hoe die plaas weer in die Kleinhansfamilie se besit gekom het. Die huis is deur J F Kleinhans beter bekend as “Lekker Johnie” gebou rondom 1920, wat dit nou 96 jaar oud maak en het gedien as ‘n veepos waarna hulle van tyd tot tyd met hul beeste getrek het en dan oorgebly het. Die plaas het verskeie male van eienaar verwissel waarna “Lekker Johnie” se broer se kleinseun, Louis, (die huidige eienaar) die plaas teruggekoop het sodat dit in familiebesit kon bly.
Die huisie wat gerestoureer gaan word, is nie die enigste besienswaardigheid op Lunsklip nie. Louis vertel dat soos hulle op die plaas werskaf en bosse rondom die huis uittrek, hulle ontdekkings maak wat onder die ruig bosse toegegroei was. Daar is byvoorbeeld ’n ronde dam uit die grond met ’n groot klipbank wat water moes opvang en dat daar suipkrippe gemaak is sodat die vee kon water kry.
Daar word baie planne beraam om die plaas weer na haar vorige geskiedkundige glorie te restoureer en sodoende te bewaar sodat Louis en Sita se nageslag die erfenis kan waardeer.

Hessequa Nuus sal die restourasieprojek met belangstelling volg en van tyd tot tyd ons lesers inlig oor die vordering wat gemaak word.

Gaan kyk gerus op ons webwerf onder Hessequa Nuus na die kleurfoto van die huisie sodat ons lesers kan sien waaroor hierdie skrywer so liries raak.

Print Friendly, PDF & Email

Leave a Reply