PERSOONLIKHEID VAN DIE WEEK

article-pic-1

Naam en Van
Hannalie Taute

U huidige beroep?
Kunstenaar. My medium is katoen gare en rubber, m.a.w ek borduur op binnebande.

Wat motiveer jou?
ʼn Vriendin het onlangs vir my n skakel na die skrywer Neil Gaiman se “Commencement speech 2012” getiteld: “Make good art”, op “Youtube” gestuur. Dit was motiverend.

Noem een ding wat altyd jou belangstelling prikkel.
Woorde

Wat is die domste ding wat jy nog gedoen het?
Ek het al heelwat onnosele dinge aangevang, maar met nabetragting hoop ek dat ek iets uit elke een geleer het.

As jy een persoon se werk vir ‘n week kon oorneem, wie s’n sou dit wees en hoekom?
Niemand s’n nie. Ek hou van wat ek doen.

Wat was jou mees verleë (embarrassing) oomblik/ondervinding/geleentheid nog?
My pa sê altyd dat my blaas tussen by oë sit. Ek huil maklik. Dit laat my gewoonlik verleë voel.

As jy ‘n miljoen rand sou wen, hoe sal jy dit spandeer?
Gou-gou.

Ek verlaat nooit my huis sonder ……
…die hoop om weer terug te keer.

Wat is jou gunsteling gereg en restaurant?
Mossel-pot. Verkieslik met mossels wat ons self vanaf die rotse oes. My man Hendrik is my gunsteling chef. Onder die Melkhoutboom by ons is my gunsteling eetplek.

As jy een wens van ‘n “genie” kon kry, waarvoor sou jy wens ?
Nog ʼn wens.

Deel ‘n paar interessante feite omtrent jouself.
*Toe ek klein was het ek n ‘imaginary friend’ gehad- sy naam was High-Chapparal.
*Ek hou van sprokies.
*September die 22ste open my solo uitstalling by Fried Contemporary in Pretoria- getiteld: The Grimm Needle

Het jy ‘n boodskap vir die gemeenskap van die Hessequa-streek?
Carpe Diem!

Wat is jou gunsteling tydverdryf of stokperdjie ?
Om te ‘naai’ (ww.) (Met naald en draad werk)

Epos: hannalie.t@gmail.com  

HANRI-PROJEK

article-pic-1

In die uitgawe van die Hessequa Nuus – 19 Augustus was daar ’n versoek vanaf die HanRi dierekos en kombersiegroep aan die publiek om oorskiet wol te skenk waarmee daar kombersies gebrei kon word wat dan aan dierehospitale en skuilings geskenk sou word. Gedurende Augustus is daar skenkings gemaak aan die dierehospitale in Hartenbosch, Stilbaai en Riversdal. Al drie hierdie hospitale het hulle opregte dank aan die moeder en dogter-iniatief betuig en gevra dat daar asseblief volgehoue ondersteuning aan die projek gebied word.

Die onderstaande brief vanaf die Riversdal Dierekliniek is ’n sprekende voorbeeld van dank vir die werk en ondersteuning wat die groep bied. Lesers wat by die projek betrokke wil raak, kan Hannelie of Rina skakel by 078 334 0389.

BAIE, BAIE DANKIE!
Ons kan die hande wat die lieflike, bont, gebreide kombersies nie genoeg bedank vir die skenking nie. Dit het gekom soos broodnodige manna uit die hemel. Ons het nie eens besef hoe nodig ons dit gehad het, tot ons dit ontvang het nie! Dit was die wonderlikste geskenk. Die gebreide kombersies bied veral die nodige hitte en snoesige troos vir diere wat uit teater -prosedures kom. Volgens Suster Grace kan ons nie genoeg dankie sê vir die ekstra kombersies veral op reëndae nie. Ons wasmasjien hardloop daagliks oortyd en die wasgoedlyne bly vol. Die kleurvolle kombersies bring ook ‘n opgewekte atmosfeer.

Dr Pierre du Bruyn beaam sr Grace se stelling en is ook vol lof vir die dames wat die skenking aan die Riversdal Dierekliniek gemaak het. Binnekort gaan die perdekliniek ook open, en daar gaan sekerklik gestoei word vir die kombersies tussen die kleindiere- en grootdiere-kliniek. Dit is ‘n briljante en puik projek wat baie waardeer word.

Vanaf al die personeel en pasiënte by Riversdal Dierekliniek, wil ons graag ons opregte dank uitspreek aan die mense wat brei, wol skenk, EN ons gekies het vir die groot “blessing”!! Mag ieder en elk oorvloedig geseën word in elkeen se behoefte!

Dr Jako du Plessis, Dr Douglas Taylor, Dr Pierre du Bruyn en Personeel 

foto

STORIE-VOORLESINGSPROGRAMME

article-pic-1
Onder aanvoering van Jannette du Plessis bied die Heidelberg biblioteek nou kwartaalliks die voorlees van stories by skole aan. Wim Vorster word gewoonlik ingespan om die nuutste boekies voor te lees
Verlede week was die ACVV Hansie & Grietjie Speelskool aan die beurt. Rolien Ackermann en Christelle Pick geniet gewoonlik die stories saam met die kleuters.

Maandag 26 September is De Waalville Primêr besoek en Graad R kon luister. Al drie die klasse het byeengekom dus het 70+ jonges geluister na die manewales van Mia die liewenheerbesie en haar maatjie Pippie, die miertjie asook ‘n storie oor ‘n Feëtjie prinses.

Die besoek is interaktief en Wim verduidelik nuwe en moeilike woorde en vra wie weet wat dit beteken en so meer. Die kinders kry ook kans om self stories te vertel. Hulle opdrag is om een van die stories te gebruik en ‘n prentjie te teken wat later in die biblioteek uitgestal sal word.

20160926_090418

Foto een is Hansie & Grietjie en Rolien, Christelle en Jannette Op foto twee is Wim en Jannette tussen die jongklomp en op foto drie is al die graad R’s voltallig; die gesiggies die ene afwagting. Op Woensdag 28 September was dit Hoërskool Heidelberg se beurt en is grade R en 1 vermaak.

GESIN VERLOOR ALLES IN BRAND

article-pic-1

Gesin verloor alles in brand. Verlede Donderdagnag het die gesin op die foto al hul besittings verloor toe ’n verswelgende brand hul houthuis verwoes het tot op die grond.

Die brand het vermoedelik in ’n ander huis op die perseel in Melkhoutfontein ontstaan en baie vinnig versprei na die gesin se huis.

Toe Hessequa Nuus die gesin besoek het, was hulle in die sorg van personeel by Ouma Lena se huis. Hier is hulle van klere en etes voorsien asook badgeriewe.

Hessequa Munisipaliteit het tydelike verblyf verskaf aan die familie terwyl die afgebrande huis herbou word. Die Malgas- gesin is die eerste inwoners van die projek van die Munisipaliteit, bekend as die TRA Deurgangserwe-projek. Terwyl die Harmony Park Noord informele nedersetting opgradeer word na ’n formele nedersetting, sal inwoners wie se huise opgegradeer word, in die genoemde projek se tydelike woonhuise gehuisves word.

Tans het die gesin dringend ’n gasstofie nodig asook ’n yskassie.
Bydraes kan by Badisa gemaak word sodat hulle gehelp kan word om meubels en ander benodighede aan te koop sodra die familie terug trek na hulle herboude huis.

Badisa se telefoonnommer is  028-754 2203 en hulle adres is Pastoriestraat 15, Stilbaai.