STILBAAI MANNEKOOR HOU KONSERT!

article-pic-1

Op Saterdagaand die 5de November 2016 is dit weer sulke tyd! Dan hou die nou reeds bekende, en baie populêre Stilbaai Mannekoor hulle jaarlikse konsert in die NG Kerksaal-Oos. Die konsert begin om 7:30 nm en kaarties is by die koorlede en by CUPZ Café en, indien daar nog oor is, ook by die saaldeur teen R60 (en R40 vir kinders) te koop. Soos verlede jaar is hierdie konsert ten behoewe van Jagersbosch en Huis Stilbaai. Jou kaartjie is dus inderwaarheid ‘n donasie aan hierdie twee organisasies! Daarom word daar ook na afloop van die konsert ‘n sagte kollekte opgeneem by die deure.

Die Stilbaai Mannekoor is nou eers drie jaar oud maar gaan van krag tot krag, met Naomi van Schalkwyk die kundige en geliefde koorleier, Alta Bester as begeleier en ‘n veertigtal entoesiastiese mans, met ‘n gemiddelde ouderdom van vêr oor 70. As die manne eers begin sing, is daar geen keer aan hulle nie en klink die musiek hemels en die manne almal jonk.
Die konsertprogram bestaan uit ‘n agtiental populêre Afrikaanse – en Engelse liedjies, ondermeer bekende musiek van Lerner en Loewe, John Denver, Koos du Plessis, Jan de Wet, ABBA, uit die FAK en meer. Sommige daarvan is spesiaal vierstemmig vir die Stilbaai Mannekoor verwerk. Daar is ook ‘n verstommende duet deur ‘n 84-jarige tweeling, ‘n klavierduet as tussenspel, ‘n sopraan wat saam met die koor optree en ‘n grappige volkswysie met ‘n aantal dames wat by die mans aansluit en saam sing. Een van die hoogtepunte van die aand is die uitvoering van ‘n Langenhoven-gedig wat deur die koorleier Naomi en haar man Schalk,( wat ook in die koor sing) se dogter, Petro van Schalkwyk, getoonset is. Dié lied word dié aand vir die heel eerste keer uitgevoer en die Stilbaai Mannekoor is trots om die eerste te wees om dié besonderse musiekstuk te mag vertolk.

Kom geniet die aand saam met familie en vriende. Die musiek wat u gaan hoor
is lig, die stemming gemoedelik en die harte vrolik en vol liefde. Daar sal tydens pouse vrugtesappe te koop aangebied word.

Kry so gou moontlik kaartjies ….. want die aantal stoele (en dus die aantal kaartjies) is beperk! Onthou: dit is vir liefdadigheid.  

GROENSTE MUNISIPALITEIT

article-pic-1

Hessequa Munisipaliteit is op 21 Oktober 2016 te Stellenbosch vir die tweede agtereenvolgende jaar as die groenste munisipaliteit in die Wes-Kaap aangewys. Hessequa stap as algehele wenner van die “Greenest Municipality” Wes-Kaap weg, met 5 pryse in tou.  Die kompetisie is beoordeel volgens streng kriteria en het Hessequa in deelgeneem in al die onderstaande kategorieë. Afvalbestuur, Energiedoeltreffendheid en Bewaring, Biodiversiteit en kusbestuur, Waterbestuur en bewaring, Kwaliteit van lugbestuur en Leierskap, nakoming, instansie reëlings en publieke deelname.
As wenner ontvang Hessequa ʼn bedrag van R130 000.00 en sal die geleentheid ontvang om die Wes-Kaap in die nasionale kompetisie vir die groenste munisipaliteit te verteenwoordig. “Ons is baie trots op hierdie prestasie van die Munisipaliteit aangesien die kompetisie al strawwer word. Om twee agtereenvolgende jare as wenner weg te stap getuig van die Munisipaliteit se geïntegreerde volhoubare ontwikkelingstrategieë en die munisipaliteit se verbintenis tot omgewingsvriendelike bestuur van ons pragtige dorpe,” het die Uitvoerende Burgemeester, Raadslid Grant Riddles in sy kommentaar op hierdie sukses van die Munisipaliteit gesê. Munisipale Bestuurder, Mnr. Johan Jacobs noem in sy kommentaar: “Baie dankie en baie geluk aan elkeen wat meegehelp het om weer hierdie gesogte toekenning te verower. Dis spanwerk en elke projek is integraal deel van die geheel. Veral die samewerking met Gemeenskapsorganisasies beteken vir Hessequa baie en stel ʼn voorbeeld vir ander munisipaliteite in die Wes-Kaap en Suid-Afrika.”