STILBAAI SAKEKAMER

article-pic-1

Wykskomitee skedule en samestelling:
Min inwoners is bewus daarvan dat gemeenskappe kan deelneem aan munisipale prosesse deur middel van publieke deelname platforms. Een van die maniere is wykskomitees en het die nuutverkose Raad van Hessequa Munisipaliteit dit een van hul doelwitte gemaak om publieke deelname te verbeter.

Die eerste beleid wat deur die nuwe Raad hersien en goedgekeur is, is die Wykskomiteebeleid wat voorsiening maak dat gemeenskappe beter verteenwoordig word in wykskomitees. ʼn Hibriede model word geïmplementeer wat ruimte bied vir “blok” verteenwoordigers waar geen burgerlike platforms gemeenskappe voorstel nie. Tesame daarmee word relevante sektore ook geakkommodeer soos nodig. Die Raad wil graag seker maak dat alle inwoners verteenwoordig is, al is daar nie ʼn belastingbetaler- of inwonersverenigings wat hulle belange verteenwoordig nie.

Die “blok” verteenwoordigers word verkies tydens ʼn openbare vergadering waarby die nominasies bekend gemaak word. Gemeenskappe wat deur ʼn burgerlike platforms soos ʼn belastingbetaler- of inwonersverenigings verteenwoordig word, sal deur ʼn afgevaardigde vanaf die betrokke platform verteenwoordig word. Enige inwoner kan ʼn inwoner nomineer en word nominasies ontvang tot die dag voor die verkiesingsvergadering.

Indien u as inwoners direkte kennisgewings aangaande wykskomitees se vergaderings wil verkry, word u vriendelik versoek om te registreer op die munisipale SMS stelsel, van waar u algemene kennisgewings en inligting kan ontvang. Gemeenskappe wat deur die nuwe hibriede model verteenwoordig sal word, is Albertinia, Riversdal, Heidelberg en Slangrivier. Dorpe soos Stilbaai, Gouritsmond, Jongensfontein en Witsand word deur sterk burgerlike platforms verteenwoordig en sal die betrokke platforms versoek word om afgevaardigdes te nomineer. Daar is ook verskeie sektorale platforms wat betrokke gemaak kan word. Voorbeelde hiervan is Sakekamers, Landbou, Advies Forums en enige relevante belangegroep tot wyke.

Vir meer inligting kan u die kantoor skakel van Mnr. L de Villiers by 028 713 8089. U navrae kan ook per e-pos gerig word aan info@hessequa.gov.za.
STILBAAI SAKEKAMER

Print Friendly, PDF & Email

Leave a Reply