MENS MENSE

article-pic-1

Ons het met ‘n fanfare aan die begin van Augustus van die Oos-Kaap na Albertinia getrek, vrees in die hart oor ons niemand ken nie. Min het ons geweet dat Albertinia se kontrei wemel van mens mense.

Kort na ons aankoms, word ons een Sondagoggend wakker. Dit was ‘n mistroostige dag – bewolk en winderig. Later trek dit toe effens oop en ons besluit om Stilbaai te gaan verken. Ons moes net wegkom van al die dose wat om ons opgestapel staan en die frustrasie van ongekende chaos. Teen die tyd dat ons Stilbaai instoom, val daar so ‘n misreëntjie.
Skuins na 3 draai ons die perde om huistoe, maar o wee, ‘n ent buite dorp gaan staan my bakkie. Nou kyk, as daar een ding is waarvan ek minder weet as ‘n kat van safraan, is dit karre se enjins. Ek maak maar altyd die enjinkap oop, klim uit en gaan staan en kyk na die binnegoed. Hoekom weet nugter. Ten minste kan verbygangers sien ek is hulpbehoewend en staan nie daar langs die pad oor my vrou my uit die huis gejaag het nie. Maar jy kan my net so wel langs ‘n operasietafel sit. Ek weet ewe veel van wat veronderstel is om waar te wees of hoe dit moet lyk of wat dit veronderstel is om te doen.
Krisis der krisisse! Teen dié tyd sous dit behoorlik in navolging van die wet van verdomp. Ons ken niemand nie. Dis Sondagmiddag en ons is iewers tussen êrens en nêrens. Ek het net die agent wat ons rondgewys het se nommer (en sy sit die naweek in Pretoria) en haar assistent s’n wat ek net vlugtig ontmoet het. So ek bel haar toe. Haar ma antwoord, die kind is ook nie beskikbaar nie. Ek verduidelik ons dilemma en dit was nie 10 minute nie, toe bel sy terug en sê ons moenie kommer nie, sy sal iets reël.
Die volgende oomblik, stop ‘n polisievoertuig langs ons. Twee vriendelike Stilbaai polisiemanne klim uit. En het die twee nou hulle bes gedoen om ons te help! In die gietende reën! Ek sal dit nooit vergeet nie en sal hulle altyd dankbaar bly. Maar bakkie verseg om te vat, alle pogings tot resusitasie ten spyt. Hulle kry toe ‘n oproep en moes vort, maar het later weer teruggekom om te hoor of ons reggekom het. Mens mense! En asof met die swaai van ‘n towerstaf, daag D en ‘n man met ‘n kar op. Ons ken nie die man van Adam af nie, maar hulle het hulle Sondagmiddag opgeoffer om ons te kom help. Nog mens mense.
Ek dog die kar lyk vir my bietjie lig, maar so sleep hy ons toe terug – soos ‘n mier wat ‘n vlieg sleep. Op die dorp bel D twee manne wat ‘n herstelplek oopgemaak het en hulle sleep ons sommer dadelik soontoe. En die volgende oggend sommer vroegdag is die bakkie weer reg! Hulle het nie gras onder hulle voete laat groei nie. Regte mens mense. En dis Albertinia en kontrei se mense, wat ek nou met trots Ons Mense kan noem. André Malan – Toentertyd, Albertinia  

Print Friendly, PDF & Email

Leave a Reply