OORDENKING

oordenking

DIE ARMOEDE VAN DIE GEBED

SKRIFGEDEELTE : Romeine 8 : 14 – 30
FOKUSGEDEELTE : Romeine 8 : 15 en 26
In die vorige oordenking het ons gelees van die rykdom van die gebed. Daar is egter ‘n ander kant, naamlik die armoede van die gebed. Die armoede bestaan daarin dat ons gebede eintlik ‘n roep tot God is.
Dit is opvallend dat daar in Rom 8:15 nie sê of bid nie , maar roep staan. Die woordjie “roep” in Rom. 8:15 en Gal 4:6 het ‘n Ou Testamentiese agtergrond. Ons lees telkens dat Israel tot die Here roep (Eks 22:23; Rigters 3:9; Ps. 22:6 – 1953 vertaling) Wat beteken dit? Roep veronderstel ‘n noodsituasie. Ons gebede is eintlik ‘n roep. Ons roep vanuit ‘n onvolmaakte wêreld. Die gebed as roep teken die nood waarin die gelowige staan. Verder teken Rom 8:26 die armoede van die gebed deur te stel dat die Gees ons in ons swakheid (enkelvoud) moet help. Ons swakheid is dat ons nie weet wat om te bid nie. By die gelowige is daar ‘n onvermoë om te bid. Swakheid dui dus op iets tiperend van die gelowige vir solank hy nog in hierdie bedeling van skuld en gebrokenheid lewe. Uit hierdie swakheid kom die armoede en hulpeloosheid van die gelowige in ons gebede na vore. Daarom is ons gebed eintlik ‘n roep vanuit ons swakheid en nood.
Die troos vir elke gelowige is egter – al is die onvermoë om te bid so radikaal, tree die Heilige Gees self vir elke gelowige op so manier in dat ons gebede ooreenkomstig die wil van God is (vers 27). Ons mag dus – beter gestel – moet dus bid.
Armoede? Ja, maar ook rykdom – ons gebede word opgeneem en gesuiwer deur die Gees om dit dan voor te hou aan ons
Hemelse Vader:
‘n Hemelse Vader in Jesus Christus ons Here.
‘n Hemelse Vader wat weet wat ons nodig het en vir sy kinders sorg.
Ds Peet Coetzee
Gereformeerde Kerk Stilbaai  

Print Friendly, PDF & Email

Leave a Reply