VERSUGTING

article-pic-1

Toe ek jonk was, het ek gereken dis belangrik om bekend/beroemd selfs berug te wees. Soos Tiemie in PG du Plessis se ‘Siener in die Suburbs’ wou ek van geweet wees. Ek hoor vandag nog hoe Sandra Prinsloo se Tiemie verklaar; “Ek wil van geweet wees, Ma. Ek wil van geweet wees.” Die manier om ’n duik, ’n stamp, ’n merk in die geskiedenis te maak, is om bekend te word sodat mense lank nadat jy na die hiernamaals geëmigreer het, nog van jou bewus sal wees.
Dis nie die rede hoekom ek gaan drama swot het nie. In die laaste jaar van BSc, wat ek algaande meer gepes het, is my pa dood en het ek rondgeval. Ek het met die voorligter by UP gaan gesels en drama of beeldende kuns is voorgestel. Ek sou graag musiek wou doen, maar het nie die kwalifikasies gehad nie. By die dramadepartement het die wêreld egter oopgegaan. Hier kry jy met alle aspekte van menswees te make: die geestelike, emosionele, sosiale, psigiese, seksuele, ekonomiese en politiese omstandighede waarin die mens hom kan bevind. En drama is deel van die letterkunde – wat ek soos rolprente reeds van jongs af bewonder het.
Toneelspel is uiteraard (vir die uitverkorenes) ’n pad na bekendheid en roem. Maar ek het algou besef (deur die invloed van mense soos Anna Neethling-Pohl) dat roem nie die uitgangspunt of doel van die toneelspeler mag wees nie. Sou dit jou meeval, soos met genoemde Sandra Prinsloo, is dit ’n bonus. Toneelspel – nes enige werk waarin jy wil slaag – verg toewyding en uiters harde werk. 10% inspirasie 90% perspirasie. Om te streef na roem, is om agter die wind aan te jaag.
My loopbaan as toneelspeler was van korte duur. Ek het in al die ander aspekte van die teater ook belang gestel en vanweë die liefde het ek ’n hele paar gulde geleenthede ten opsigte van toneelspel laat verbygaan. Dit daar gelaat en dit was kognitiewe besluite daarom kan ek niemand daarvoor beskuldig nie.
Dus is ek vandag steeds nie bekend nie. Ja, die (ouer) mense in die bedryf weet wie ek is, maar min van die jonges is bewus van my bestaan. En die breë publiek is salig onbewus van my. Anna Neethling-Pohl was bekend en beroemd. Deesdae is sy vir sommige ’n vae herinnering en die meeste het nog nooit eens van haar gehoor nie. Nes Eleonora Duse en Sarah Bernhardt en Greta Garbo en DH Lawrence en TE Lawrence en Jannie Gildenhuys en Francois Swart en Wena Naudé en Etienne Leroux en sovele, sovele, sovele. Bowendien, wie onthou nog die name van die persone (wat nie gevestigde akteurs is nie) wat in televisiesepies verskyn het? Roem is overgeset synde vlietend.
Desnieteenstaande sou ek graag een ding (net een is oorgenoeg) van werklike waarde wou daarstel. Een voortbrengsel wat inderdaad iets vir my medemens kan beteken. Dit sal nie ’n uitvindsel wees nie, ook nie ’n orgaanoorplanting of ’n ruimtereis nie, want dit is al gedoen. Dit sal uiteraard iewers op die spektrum van die skryfkuns moet lê.
Met die intelligensie en talent wat ek tot my beskikking het, wil ek so graag, so bitter graag, net iewers ’n bydraetjie van blywende waarde lewer sodat ek kan weet my bestaan op aarde was nie nutteloos nie. Waarmee ek nie my vriendskappe en innige liefde vir my susters en gesinne negeer of minag nie. Inteendeel. Ek wil net iets tasbaar, iets sigbaar, iets merkbaar ook tot stand bring. As mense oor ’n klompie dekades deur stowwerige argiewe gaan, moet hulle daarop afkom en hulle van my vergewis.
Dis meer as ’n skeppingsdrang of ’n begeerte, dis ’n behoefte. Miskien is dit egter ook bloot die wind in ’n ogiesdraadhok probeer vaskeer…

Wim Vorster
wimvorster1@gmail.com 

Print Friendly, PDF & Email

Leave a Reply