SONDAG-KITAARKONSERT IN STILBAAI

Die Stilbaai Musiekvereniging bied op Sondagmiddag 29 Januarie 2017 om 4nm. ‘n konsert aan in die NG Kerksaal-Oos waarin drie beroemde Suid-Afrikaanse klassieke en kontemporêre kitaarspelers onder leiding van Herman Bergman (as komponis) met Charl Lamprecht en Werner Bessinger optree saam met twee plaaslike musikante, Waldemar van Wyk (basviool) en Prieur du Plessis op dromme. Die vertoning, bekend as “ Mahai” is ‘n versameling oorspronklike nuut gekomponeerde instrumentale kitaarmusiek, soos vervat in die album wat in 2016 op CD uitgereik is en oral met groot entoesiasme ontvang is. Dit is gespeel op Classic FM en Fine Music Radio met Morning Live het ‘n lewendige optrede daarvan uitgesaai op SABC. Kritici is ook gaande daaroor.
Die groep word gelei deur Herman Bergman (ook bekend as Herman van den Berg), die tweemalige SAMA-finalis, wat reeds 5 albums met Afrikaanse musiek uitgereik het en musiek gekomponeer het vir twee TV-reekse nl. Binnelanders en Kampituit. Hy het ook die musiek van Jacques Brel in Afrikaans vertaal en dit oral in Nederland en België uitgevoer. Saam met hom tree op Charl Lamprecht, ‘n klassieke kitaarlektor aan Tukkies, Unisa en Pro Arte, die eerste musiekstudent aan die Universiteit wat met kitaar as eerste instrument sy B.Mus (met onderskeiding) voltooi het. Werner Bessinger, die derde kitaarvirtuoos is ook ‘n befaamde luitspeler wat sy opleiding in Spanje en Indonesië ontvang het. Waldemar van Wyk, op basviool kom van Knysna ,is die stigter van die Knysna Jazz Quartet en het al saam met Paul Simon, Johnny Clegg, Wendy Oldfield en Sipho Gumede opgetree. Prieur du Plessis, die dromspeler kom van George en het al opgetree saam met Elvis Blue en Karen Zoid.
Waarlik ‘n vertoning wat nie gemis kan word nie!
Lees elders meer oor die Stilbaai Musiekvereniging.

Danie: 028 754 2833 / 083 258 8789  

 

Niel Rademan, uitvoerende hoof van die Suidoosterfees het laat weet dat die internasionale kabaretster, Sarah Tullamore op 24 Maart 19:00 by sy teater, Dasjesdrift, Heidelberg optree.
Soos Niel se. “Straight from the Edinburgh Fringe”. Me. Tullamore is ’n bekende op Europa se teaterverhoe en het reed talle lofbetuigings ontvang vir haar optredes. Sy sal begelei word deur die musikante wat haar op hierdie toer vergesel. Haar optredes oral in Suid-Afrika, sluit ook ’n vertoning by die bekende teaterkroeg Alexander Bar in Kaapstad in.
Wat ’n voorreg om ’n kunstenaar van hierdie formaat aan te bied in die pragdorpie, Heidelberg. Voorwaar ’n “scoop” soos wat ons in teaterkringe sê.
Vir die lesers wat nie weet van die Dasjesdrift Huisteater nie gee ons ’n bietjie agtergrond.
Die teater, ’n “manor house” wat dateer uit 1933, is geleë op ’n plaas tussen Heidelberg en Witsand. Die huis wat die familie eens wou sloop, is vandag ’n pragtige gerestoureerde huis en pronk met ’n teater wat reeds gasheer gespeel het vir van die beste produksies wat al aangebied is in die land. Dit danksy Niel en sy ma, die ewe bekende Cecil Rademan wat besluit het “Basta met die geslopery!” en ook met die hulp van die gemeenskap die restourasie aan te pak. Kunstenaars en gehore is gaande oor die intieme teater.
Om terug te kom by die vertoning wat aangebied word in Maart, is Tullamore se optrede een wat nie misgeloop moet word nie.

Kaartjies is R200pp en kan per epos by neil.rademan@gmail.com.
Vir die mense wat nog lekkerder wil kuier, kan ’n piekniekpakket bestel word by:

Vinkel en Koljander: Anel Snyman –
082 067 6267
(Irma Huysamer – 060 822 2195) 

STILBAAI HEEN & WEER

 

So baie mense ry elke dag êrens heen… Winkel toe, Skool toe, Weste-kant toe, Ooste-kant toe, Jongensfontein, Melkhoutfontein, Riversdal, Albertinia, selfs Mosselbaai en George. Daar’s dinge om te doen, mense om te sien – maar dit gaan partykeer by ons verby dat daar diegene is wat nie gou in die motor kan spring nie.

Daarom ‘n nuwe groepie vir Stilbaai nou te vinde op Face Book: Stilbaai Heen & Weer.

Die doel was in die eerste plek om mense bymekaar te kry wat ‘n rygeleentheid soek of kan aanbied, veral wanneer ons na ons buurdorpe moet ry. Maar groter as dit – om binne ons gemeenskap iemand uit te help wat nie vandag 13:00 die kinders by die skool kan gaan haal nie, of nie kans sien vir loop om vanaand se kos te gaan koop voor dit donker word nie. Of in die reën!
Die groepie is oop vir almal wat wil deelhê aan hierdie initiatief, en almal sal aanvaar word en sal op die “wall” kan pos. Dit bied ander lede die geleentheid om daar deur te soek en/of daarop te reageer. As dinge goed verloop kan ons die verkeer (verder) verlig (nadat die vakansiegangers ons verlaat het), en mekaar sommer beter leer ken.
Die diens sluit in geleentheid vir passasiers of pakkies/items wat êrens moet uitkom en die diensleweraar is welkom ‘n koste te vra, solank dit vooraf so ooreengekom word. As daar diegene is wat gereeld ry, is u ook welkom om u kontakbesonderhede te deel, vir die eendag of elkedag.

Maar – als gesê en gedaan, bly die veiligheid van ons mense vir ons belangrik. As u ‘n reëling tref, bly dit u verantwoordelikheid om jou en jou familie se veiligheid te verseker. Ons probeer mense met mekaar “connect” om ons gemeenskap te baat. Nietemin wees verseker, as daar enige klagtes is, sal dit ons ernstige aandag geniet en skuldiges sal verwyder word om almal ‘n veilige kans te gee.
Besoek ons by: F/B Stilbaai Heen & Weer.
(Irma Huysamer)