WYNFUNDI – BELOON JOUSELF

 

Indien jy ‘n werkende ‘local’ was langs een van die Hessequa-kusdorpies hierdie afgelope seisoen, weet jy beter as enigiemand dat dit nou hersteltyd is. Voor jy jou oë kon uitvee en besef het dat die seisoen vroeg op ons was, is dit weer verby. Al wat oorbly is, hoë pryse, moeë werkers en leë strande…
Hierdie is nou die tyd om te ontspan en jouself te beloon met ‘n GOEIE glasie wyn. Hier is ‘n paar opsies van ons top keuses die afgelope seisoen:

Boplaas Merlot – ‘n Maklike, ongekompliseerde , goeie waarde vir geld rooiwyn.

Baleia Tempranillo – Ons plaaslike Riversdal-wynkelder, Baleia, het duidelik hierdie Spaanse kultivar goed onder die knie. Probeer gerus dié baie spesiale wyn.

JHG Pinotage – Hierdie wyntjie is vir dié wat ekstra hard gewerk het die seisoen. Dit is een van die bekroonde wynmaker, Lourens van der Westhuizen, se bestes nóg en definitief een van ons gunstelinge.

Bemind Cinsault – Lus vir iets anders? Beloon jouself met Ilse Schutte se onlangs gebottelde Cinsault. ‘n Sagte maar steeds komplekse wyn en ekstra lekker is as dit koud bedien word.

Flippenice Cabernet Sauvignon/ Merlot – Hierdie wyn se naam beskryf dit perfek! ‘n Baie lekker, goeie- waarde-vir-geld-wyntjie.

Haute Cabriere Chardonnay / Pinot noir – Terwyl Chardonnay- en Pinot noir-versnitte besig is om groot opspraak in Suid-Afrika te maak, sal hierdie vrugtige een altyd ‘n gunsteling bly.

Running Duck Sauvignon Blanc – Organiese wyne raak ook meer algemeen. Alhoewel dit gewoonlik duurder is, is Stellar se reeks baie bekostigbaar.

Boplaas Stoepsit Sauvignon blanc – Hierdie Saugnon blanc moet jy definitief op jou stoep sit en drink… Dis ‘n lekker ‘kuierwyn’ en perfek vir enige gesellige geleentheid.

Springfield Life from Stone – Jaar na jaar sal hierdie ‘n gunsteling bly en dit kan beslis as ‘n belonging gesien word na ‘n besige seisoen.

Boplaas Bobbejaansberg Sauvignon Blanc – Hierdie wyn (Boplaas Stoepsit se grootboetie) was hierdie seisoen die buiteperd wat goeie Sauvignon Blancs betref. Probeer dit gerus!

Bonnievale Dawn & Dusk – Vir dié wat meer van ‘n soeter wyntjie hou is hierdie Perlè-wyne die perfekte keuse.
Bederf jouself en skop dan 2017 op ‘n hoë noot af!

Johannie Vermeulen – Stilbaai Kelders

Print Friendly, PDF & Email

Leave a Reply