BRAND SAAI VERWOESTING

 

Die brand wat Sondag, 15 Januarie by Klipfontein net buite Stilbaai uitgebreek het( + – 20 km ),was teen Dinsdagaand nog nie onder beheer nie en is as ‘n kode rooi verklaar. Dit beteken dat daar by die Wes-Kaapse provinsie aangeklop is vir bystand. Sou dit toegestaan word, sal die provinsie gratis hulp verleen om saam met brandbestryders van die Hessequa Munisipaliteitpersoneel (4) Eden Distriksmunisipaliteit en Working on Fire (WOF -40) en 12 brandbestryders, te help om die brand te blus.

Teen Dinsdagmiddag het die brand reeds versprei na Vermaaklikheid en later is laat weet dat die verwoestende vlamme na Riversdal begin uitbrei het en buite beheer is. Die sterk Suidoostewind het bygedra by tot die vernietiging. Met die ter perse gaan van die Hessequa Nuus was die brand steeds buite beheer met ‘n huis wat reeds in die slag gebly het. Ook het die brand ander strukture en ‘n rietdak- huis ingevaar. Die plaas Wolwekoppen van Dr. Fanie Fourie het ongelukkig ook in die slag gebly. Die vuur het na Stilbaai teruggedraai met ‘n donker wolk wat oor Stilbaai gehang het.

Boere van die omgewing, inwoners en brandbestryders het onverpoos dag en nag voort geveg om die vlammedood te slaan. Lugbystand het met water wat van naburige damme op plase verkry is, moedig voort baklei teen die verwoesting wat voortgeduur het.

Stilbaai-inwoners en – besighede het soos een man saamgespan om etes, koeldranke en veral drinkwater aan die moeë, maar brawe voortvegtende helde te voorsien. Afsetpunte is gestel by die munisipale kantore, die “Joint Operations Centrum” en die NG Kerksaal Wes waarheen die etes en water geneem kon word en dan verder versprei is na die brandblussers. ‘n Verdere versoek vir oogdruppels, ys, drinkwater en sjokolade, is aan die gemeenskap gerig. Grant Riddles, Uitvoerende Burgemeester, het die gemeenskap bedank vir die hulp wat verleen is ten opsigte van kospakkies en water wat reeds voorsien
is. Teen druktyd was die oorsaak van die brand nog nie bekend nie.