WAAR IS ALBERTINIA?

So ry ons toe die dag van ons langverdiende vakansie uit die bose Gauteng na die vreedsame Kaap. By elke ou Karoodorpie hou ons stil en herlaai ons batterye terwyl ons voel hoe ons weer mens word.

Anderkant Mosselbaai, toe ons weer brandstof ingooi, vra ons die petroljoggie hoe ver die dorp Albertinia is wat ons volgende stopplek is. “Nee meneer, nie te ver nie Maar kyk maar mooi, hy lê maar baie weggesteek daar tussen die rooipitjie bome en die aalwyne. Daar bly ook maar min mense daar, seker so vyftig gesinne miskien bietjie meer. Die plek lê so halfpad tussen Herbertsdale en Vermaaklikheid.”

Dit was ook maar mooi kyk toe sien ons darem ‘n kerktoring uitsteek so in die leegtetjie en hoe nader ons gaan sien ons die versteekte dorpie met sy “vyftig gesinne” tussen die bome.

Ons draai op ‘n grondpad af. Regs lê die aalwynfabriek en links ………..wat gaan hier aan? ‘n Bord wat sê TUINPLAAS, vlaggies wat waai en soldate wat op hoë pilare staan en op ons afkyk. ‘n Ruïne uit die Babiloniese tydperk.
Kom ons gaan kyk !

Ons eet ‘n heerlike “brekvis” in die restaurant en langsaan ‘n museum vol ou trekkers uit die vervloë se dae en ‘n gebreide trui wat wereldrekord grootte is.
Die man wat in hom sal pas moet nog gebore word!

Jy is terug op die plaas. Die bokke en paar skapies in die kamp bring ‘n vreedsaamheid en rus vir jou siel. Die berge in die verte, die bome en die treinspoor waar ‘n trein nou net op verby gerammel het, laat jou dink daar is nog vrede op aarde al is dit net vir nou en hier.

Ons ry verder met die grondpad die dorp in. Pragtige ou kerk met sy hoë toring en huise so tipies karoodorp, stylvol met netjiese tuine en “ wens ek het daar gewoon” huise. Dit lyk of die mense hier lekker bly.

Voor jy jou kan kry is jy anderkant uit, weer by ‘n aalwynfabriek verby en terug op die tuinroete. Wat ‘n ervaring !

Albertinia met sy lang naam se hart is groot en vol vriendelike mense. Moenie verby ry nie. Gaan kyk, ervaar en beleef dit !

Vollie Volstruis (Tuinplaas)

 

Print Friendly, PDF & Email

Leave a Reply