OORDENKING

LEES : Rut 1
Elimelek en sy vrou Noami, tesame met Maglon en Kiljon, trek van Bethlehem in Juda na Moab. Weens die droogte probeer hulle oorleef in Moab, waar die twee seuns met Orpa en Rut trou. Aldrie die mans sterf in Moab. Wanneer Naomi hoor dat die droogte verby is, wil sy teruggaan. Aanvanklik gaan albei dogters saam na Bethlehem, maar Orpa draai om na haar mense, op aandrang van haar skoonmoeder. Sy draai dus terug om weer die Moabietiese afgode te gaan dien. Rut egter is vasbeslote om saam te gaan na Juda. Haar woorde : “U God is my God” is so aangrypend. Wanneer ons leiding gee aan mense moet ons vertrekpunt reg wees. Rut het deur God se genade reg gekies en nou kan sy leiding neem. Sy assosieer met dit wat reg is. Dit is eers wanneer jy die regte keuse maak, dat jy leiding kan neem, maar ook leiding kan gee. Jy kan leiding neem, want die mense weet waarheen jy op pad is. Net ‘n dwaas volg ‘n persoon wat nie weet waarheen hy op pad is nie. Iemand sê : Wys my jou vriende en ek sê wat se persoon is jy!

Ds. Peet Coetzee
Gereformeerde Kerk Stilbaai (Reservoirstaat)

BUSY LIZZIE’S AAN DIE WOEL

Die Busy Lizzie Huis- en Tuinbouklub van Stilbaai het hulle eerste byeenkoms
van 2017 op Dinsdag 17 Januarie by die Jagersboschsaal gehou. Die nuwe
bestuur vir 2017 is as volg gekies:
Helena Le Roux, Christa Kunz, Leonie de Koning, Maryna Huggett, Manie Smit,
Elzanne Smit, Babs de Klerk, Henriette van Noordwyk, Henriette Broeksma en
Frannie Botha.
Niel van Tonder van Suid- Kaap Verf het ‘n insiggewende demonstrasie gelewer
oor beligting. Hy het verskeie soorte gloeilampe gekoppel aan ‘n apparaat
wat duidelik getoon het hoe beligting die afgelope paar jaar ontwikkel is en
groot besparings met kragverbruik en dus aan jou beursie, kan meebring.
Helena le Roux het daarna ‘n insiggewende tuinpraatjie aangebied. Ons het verskeie moontlikhede vir dag uitstappies (toere) bespreek. Met ons
byeenkoms 21 Februarie sal Christa terugvoering gee van die roete en kostes
van die volgende plekke wat ons sal besoek.
Daar het ‘n hele paar nuwe lede by die klub aangesluit en ons sien uit na
die beplande program vir 2017.- CK
(Irma Huysamer)  

GEDIG DEUR BERNARD FIELIES

MAMMA

Ek dank God vir Mamma telkemale,
want u waarde is ver bo korale…
Ek sien u opofferings in my seges raak en met al u liefde het ek dit gemaak…
Dankie Mamma dat u my altyd kom haal,
as ek in my donkerste ure verdwaal…
U het pleisters vir my skrape en skeure
en selfs salf vir al my versteekte sere…
U versorg my van geboorte deur lag en huil
en het met geduld al my doeke omgeruil…
Nog met my naelstring het u my laat bedaar,
met borsvoeding sommer in die openbaar…
Soms is ek ongehoorsaam en eiewys;
ek vermeer u plooie en maak u grys…
Deur dik en dun staan u nogtans by my
en stoot dan selfs u eie pyn opsy…
U troos my die heel beste as trane vloei;
u advies gee geur aan my geestelike groei…
Sterk is die geloof wat ek nou besit,
want u het my geleer hoe om te bid…
Dankie Mamma dat u my vandag nog voed,
met porsies van wysheid en nuwe moed…
Ek wil u teen my hou en in u oor fluister;
sodat u na my dankbaarheid kan luister…
Ek is jammer Mamma dat ek u soms skaad
en vir elke oortreding en verkeerde daad…
U is my skuiling, my leiding en my lig
en ook my hoop waarna ek altyd kan vlug…

072 271 9205
076 902 8468
bernardfielies35@gmail.com