SKILPADNAVORSING

Elke dorpie lewer mos maar sy kwota interessante mense op. So ontmoet ek toe vir Tannie Elese Joubert wat haar hele lewe lank ‘n welsynwerkster was maar jare gelede reeds afgetree het. Sy vertel my toe van haar wedervaringe.
So kom sy toe as ‘n jong onervare werkster hier op ons dorpie aan waar sy geen mense ken nie. Haar kantoor was direk langs die kerk geleë en sy het skuins oorkant die kerk ‘n kamer in die plaaslike losieshuis gehad.
Die dame wat die kafee op die hoek gehad het, het etes verskaf en saans het sy daar gaan eet. Alles klaar vir haar deur die kerkraad gereël.
Daar was ‘n hele paar jongmense wat daar gaan eet het en sy het vir hulle almal aan een tafel gedek. Sy was die enigste dame wat ‘n tafel met drie jong manne gedeel het. Twee van hulle het in die bank gewerk en een by die plaaslike prokureur.
Die kerk het haar voorsien van ‘n Volkswagen Kweewertjie waarmee sy in die uitgebreide distrik haar gevalle moes gaan besoek. Soms moes sy lang distansies aflê. Die manne het haar uitgevra oor haar werk. Een van die manne by name Koos Joubert het haar vertel dat hulle drie in hul privaattyd navorsing oor skilpaaie in samewerking met die Stellenbosch Universiteit doen.
Hy het so oortuigend vir haar gejok en die ander twee het so oortuigend saamgespeel dat sy hulle volkome geglo het. Maar hulle grootste probleem was om genoeg skilpaaie in die hande te kry om hulle eksperimente op te doen. As sy tog nie asseblief in haar omswerwinge vir hulle elke ou skilpaadjie groot of klein sal oplaai en sal saambring nie. Sy moet tog mooi oplet as sy so ry hulle sal dit so waardeer , want sekere spesies is besig om uit te sterf.

Nouja vyftig jaar gelede was daar nog baie skilpaaie so langs die grondpaaie te kry en as sy een gewaar het het sy stilgehou om haar bydrae te maak vir die groot navorsing wat gedoen moet word. Plegtig en met groot omsigtigheid is die fonds dan aangedra na die kewertjie toe. Almal wat skilpaaie ken sal weet dat die stank wat hulle afgee byna ondraaglik is.
Sy het maar ruite afgedraai en die stank verdra terwille van die groot saak… bewaring van skilpaaie teen uitwissing!
Elke aand het die drie menere ewe waardig by die kafee gewag met ‘n kartondoos om die kosbare vrag in ontvangs te neem en sonder ‘n sweempie van ‘n glimlag haar te prys en te loof vir die wonderlike werk wat sy doen en moedig haar aan om tog nie een verby te ry nie. Toe sy na ‘n paar dae begin kla oor die vreeslike stank belowe hulle haar hulle sal haar kar vir haar een of ander tyd was en skoonmaak.
Een aand kom vra die dominee vir haar die sleutel van die kewertjie om iemand te gaan besoek , want sy motor moes ingaan vir ‘n diens. Toe hy terugkom en die sleutel vir haar bring wil hy weet wat ruik so verskriklik sleg in haar kar . Sy vertel hom toe van die edele werk wat sy nog so tussen haar werk doen, van die skilpaaie en die navorsing.
Sy woorde aan haar was: Juffrou ek het nog nooit so ‘n goedgelowige mens soos jy teëgekom nie, maar daardie drie jongmanne lag baie lekker agter jou rug en ek wonder wat maak hulle met al die skilpaaie wat jy so vir hulle aanry? Ek verseker jou van hulle navorsingstories is dit net jy wat dit glo. Maar sorg dat hulle jou kar voor Saterdag was en die reuk uitkry anders sit ek die kerkraad op hulle!
Die volgende aand staan aldrie weer met die kartondoos en wag toe ek vir Kobus die sleutel van die kewertjie gee en hulle woedend met dominee en die eerwaarde kerkraad dreig. Die stinkkar moet voor die volgende oggend skoon wees..
Hulle wou hulle natuurlik doodlag maar die kar is skooongemaak en die lag en terg het nog lank geduur.
Twee jaar daarna is Kobus Joubert die leier van die navorsing en Elese gertroud. Hulle was vir 41 jaar getroud voor hy oorlede is maar die stinkende skilpaaie het ‘n goeie doel gedien en die navorsing was ‘n reuse sukses!
Vollie Volstruis.