BOOMRYKE HESSEQUA EN DIE ROL VAN DIE STILBAAI BELANGEFORUM

Die Hessequa Munisipaliteit wat in 2016 as die Groenste Munisipaliteit in die Wes-Kaap aangewys is, is voornemens om die toekenning as die Groenste Munisipalitiet in Suid-Afrika te verwerf. ‘n Veldtog is van stapel gestuur om 100 000 bome te plant. Dit kan nie oornag gebeur nie en verg baie energie en tyd.

Die Stilbaai Belangeforum is reeds ‘n geruime tyd besig om die munisipalitiet met hierdie inisiatief te help. In 2016 is bykans 3000 bome bekom danksy die mildelike finansiële steun van een van die Belangeforum se bestuurslede. Hierdie bome is dwarsdeur die Hessequa munisipale gebied aangeplant. Vanweë die sukses van hierdie inisiatief, het die Belangeforum pas ‘n verdere 1200 bome aangeskaf wat middel Junie in Stilbaai sal aanland. Dieselfde skenker het die verkryging van hierdie 1200 bome gefinansier.

Die bome is almal inheemse bome wat goed behoort te aard in ons kontrei. Wat Stilbaai betref, is die oogmerk om van die bome te plant in munisipale oop spasies. Dit behoort baie by te dra tot die verfraaiing van ons dorp. Lede van die publiek van Melkhoutfontein, Albertinia, Riversdal, Gouritzmond en Bitouville, Slangrivier, Witand en Heidelberg asook organisasies soos die Tuin-op-die-Brak Vereniging, die Jongensfontein Inwonersvereniging en Afriforum stel ook daarin belang om behulpsaam te wees met die aanplant en versorging van die bome.

Van die allergrootste belang is die hulp en bystand wat deur die Munisipaliteit gebied word om die aanplant en onderhoud van die bome moontlik te maak. Hierdie inisiatief geld vir die hele Hessequa.

Belangstellendes is welkom om te skakel met Dr. Gerrit Mars te sel 0833525583 of Gustav Radloff te sel 083 459 4998.

Die Belangeforum is van oordeel dat hierdie inisiatief wat gedryf word deur beide die munisipaliteit en belange groepe soos die Stilbaai Belangeforum, daartoe kan lei dat ons munisipaliteit en by implikasie ons gemeenskap, mits ons ons entoesiasme behou, mettertyd as die groenste in die land aangewys sal word.

 

Print Friendly, PDF & Email

Leave a Reply