GLO EN VOLHART

LEES : Hebreërs 12 12:1 – 3 en 18 – 29

Dit is soms maklik om met ‘n projek te begin, maar die toets kom of jy kan aanhou. Maklik om te begin oefen, maar om vol te hou, verg baie krag en uithouvermoë.

In Hebreërs 12 kom daar ‘n reeks dringende wekroepe tot volharding, totdat die doel van die geloof bereik is. Al die mense uit die Ou Testament wat in Hebreërs 11 genoem word, het nie net geglo nie, maar ook volhard. Die woord vir volhard beteken om ‘n baie swaar las te dra, sonder om onder die las te struikel. Om dit te illustreer word die beeld van ‘n maraton atleet gebruik in die eerste verse van hoofstuk 12.

Ons is soos die atleet op die hindernisbaan, terwyl die skare van gelowiges wat in die Here gesterf het (hoofstuk 11), ons aanmoedig. Met die lang kleed wat mense daardie tyd gedra het, kon jy nie aan wedlope deelneem nie. Daarom moes jy die kleed uittrek voor die wedloop. Niks mag jou hinder in die wedloop nie.

Die uitnemenste voorbeeld van volharding is ons Here Jesus Christus wat die wedloop voltooi het, deur selfs die dood van die kruis te verduur sonder om vir die skande om aan die vloekhout te hang, terug te deins.

Hoe lyk dit as jy die wenpaal bereik? Dit word beskryf Hebreërs 12: 22-24. Vers 18 stel dat ons nie gekom het by ‘n tasbare berg, Sinai soos Israel nie, maar stel vers 22 dit: Ons het gekom by Sionsberg. Ons wat die wenpaal bereik, het nie gekom by die berg van die wet nie. Ons het gekom by die stad van die lewende God, dit is die hemelse Jerusalem met sy miljoene engele, by die feestelike samekoms, die vergadering van hulle wie se name in die hemel opgeteken is.

Juis daarom moet ons in die geloof in Jesus Christus volhard, aanhou ondanks die swaar vrag van die lewe en so die wedloop van die lewe hardloop tot by die wenpaal. Die uiteinde van die wedloop is ‘n lewe sonder einde by God.

Ds. Peet Coetzee
Gereformeerde Kerk Stilbaai (Reservoirstraat)

Print Friendly, PDF & Email

Leave a Reply