U3A- STILBAAI IS ENTOESIATIES, DANKBAAR EN HARTSEER

Dit is met belangstelling en bewondering dat mens die uitgebreide belangstellingsvelde van Stilbaaise inwoners opmerk en sien hoe die klubs en organisasies se ledetalle toeneem en aanhou groei.

Een van die organisasies is U3A wat gedurende Mei 2015 gestig is en toe slegs 20 lede gehad het en vandag kan spog met ‘n ledetal van 178 en steeds uitbrei. Gaan loer gerus op hulle webblad w.w.w. u3astilbaai of gaan na info@u3astilbaai.org vir verdere inligting oor hierdie groep se interessante doen en late.

Op 14 Junie was een van die organisasie se uitstappies na die Plattekloof Pas. Hierdie besoek het gevolg op die praatjie “Historiese Bergpasse van die Langeberge en Outeniquas” wat in Februarie gelewer is. Lede onder leiding van “toergids” Niel van Wyk, ‘n boorling van Riversdal, is met die Plattekloof Pas oor die berg na Kannaland en die terugtog is aangepak deur die Garcia Pas. Tydens die uitstappie is interessante inligting oor die area, die mense ens. vertel. Een van die nuusbrokkies was dat die Plattekloof Pas die oudste pas van daardie gedeelte van die Langeberge is en dat dit vanaf die 1700’s tot 1841 naas die Attakwaskloof, die tweede belangrikste roete vanaf die Kaap na Kannaland en die Ooskaap was. In 1841 is die pas deur die Gysmanshoek Pas vervang en dat die pas in onbruik verval het nadat die Garcia Pas in 1877 voltooi is.

Plattekloof Plaas by die ingang na die Plattekloof en Garcia Passe, is die oudste plaas in die Riversdaldistrik.
Slegte nuus is daar ongelukkig ook, en dit is dat daar afskeid geneem is van Stefan Pretorius, Stigterslid, wat om persoonlike redes Kaapstad toe verhuis het. Stefan het die konsep van U3A aan Stilbaai voorgestel en daar word genoem dat sonder sy dryfkrag en entoesiasme die organisasie nie van die grond af sou gekom het nie.

Saam met hom het die komitee en lede gegroei het tot die organisasie wat dit vandag is.
Baie dankie, Stefan en alle voorspoed vorentoe.

Print Friendly, PDF & Email

Leave a Reply