GLO EN VOLHART

DIE TROOS OM GOD TE LEER KEN

Lees : Psalm 139

Ons spreekwoord – Moenie iemand op sy baadjie takseer nie – is baie waar . Hoe meer jy iemand leer ken, hoe beter kan jy die persoon beoordeel. In die Woord van die Here openbaar Hy Homself aan ons. Die woord openbaar (openbaring) beteken letterlik om die sluier te lig soos wat ‘n bruid se sluier gelig word. As jy dit doen, sien jy soveel beter wat presies agter die sluier is.

In Psalm 139 openbaar die Here Hom aan ons as die alwetende, alomteenwoordige en almagtige God.

In vers 1 tot 6 openbaar God sy alwetenheid. Die Here het X-straal oë. Hy kyk dwarsdeur my. Hy is met al my paaie bekend, ook die verkeerde paaie wat ek al geloop het in my lewe. Hy weet wat ons gaan praat voor ons dit sê. As dit bokant jou begripsvermoë is, veel meer vir Dawid wat stel dat die wete hom oorweldig, dit is te hoog vir sy begrip.

In verse 7-12 openbaar God sy alomteenwoordigheid. Hy is orals, daar is geen plek waar Hy nie is nie. Hy is in die hemel, in die doderyk, ooste of die verre weste, daar is geen plek, hoe ver of diep of hoog waar Hy nie is nie.

In verse 13 – 18 openbaar God sy almagtigheid. Hy is die almagtige Skepper wat my gemaak het, Hy het my gesien voordat ek gebore was, my lewensdae is in sy boek opgeskryf nog voor my geboorte, God is magtig in al sy dade, maar sy wonderlike gedagtes is ook magtig.(vers 17) Christus verklaar dat Hy alle mag in die hemel en op aarde ontvang het (Matteus 28:18)

As die Here Hom so openbaar, is dit vir ons ‘n besondere troos.
– Hy weet alles, Hy weet dus ook van al my sondes, en daarom kan Hy al my sondes in Christus vergewe,
– Hy is alomteenwoordig, daarom kan ek Hom glo dat Hy my oral sal bewaar en Hy vir my sal sorg (Matteus 6: 31 en 32)
– Hy is almagtig, daarom sal Hy my beskerm en hierdie wêreld doelgerig lei na wederkoms van Jesus Christus.

Dit is waar – Hoe meer ons die Here leer ken, hoe meer sal ons Hom dien, eer en loof.

Ds. Peet Coetzee
Gereformeerde Kerk Stilbaai (Reservoirstraat)