van die Redaksie – Grace

Terwyl ek sit en ontspan na ‘n harde dag se werk oorval ‘n ongelooflike verlange my na Grace, my huishulp van oor die 25 jaar.

Sy was Lindi se tweede ma, my steunpilaar, onvervangbaar en sonder twyfel direk uit die hemel gestuur.
As werkende ma was die hoogtepunt van my dag die lui van ons hekklokkie wat aankondig….Grace is hier !! ‘n Sug van verligting want nou weet ek dinge gaan regloop.

In al die jare wat sy by ons gewerk het, kan ek die dae wat sy siek was op my een hand tel.
Wat het ek gedoen om jou te verdien wonder ek, wat ??
Ek kon nie iemand beter kry om my kosbaarste besitting op te pas nie.

So het die jare gevorder en nieteenstaande die ouderdomsverskil het Lindi (‘n enkelkind) Grace as haar beste maatjie gesien.
So tussen al die skoonmaak, wasgoedwas het Grace altyd tyd gemaak om saam te speel en saam TV te kyk.

Toe op ‘n dag kom dié ‘opdrag’: “Ma, het ma geweet, Grace kan swem ? Koop asseblief vir haar ‘n swembroek”…en so het Grace ook gereeld saam geswem.

So geduldig, niks was ooit te veel moeite selfs al kom die ‘opdrag’ van ‘n jong kind. Ek wou keer maar Grace het my verseker als is reg. Ja selfs die DVD’s wat ek vir Lindi gekoop het om haar Engels op te knap moes Grace saam kyk en maar geduldig saam leer. Maar eerder as om te kla het Grace op haar beurt aangekondig: “Lindi is so slim, ek leer baie by haar”.

Vandag sit ek en lag as ek terugdink aan al die stories en insidente waarvan ek jare nadat dit gebeur het eers van gehoor het. Dalk ook maar goed so want sommige stories het my hare laat rys. Gelukkig het ek al vroeg besef, kinders het beslis engeltjies wat hul beskerm.

Lindi die planmaker, baas manipuleerder en Grace die gewillige wat tog op haar manier gesorg het dat dinge nooit handuit ruk nie.
So het sy die pad as deel van ons gesin gestap, van voor Lindi se geboorte tot na haar troue. Wat ‘n ongelooflike voorreg.

Vir dié van julle wat ”n Grace’ in julle lewe het, waardeer haar want hulle is skaars. By alles glo ek vir so ‘n geslaagde werksverhouding is wedersydse respek, eerlikheid, geduld, ondersteuning, verdraagsaamheid en vergifnis nodig. Ons kinders moet dit ook geleer word.

Maar vir nou gun ek Grace haar aftrede en vakansies een maal per jaar saam met Dorcas (haar vriendin) en die dames van haar kerk.

“ Good people are like candles, they burn themselves up to give others light”.

Print Friendly, PDF & Email

Leave a Reply