BEJAARDE-BRIEFIE GEDIG DEUR BERNARD FIELIES

Jy’t my híér kom neergooi met grys en skete;
teen vretende verlange veg ek verbete…
Deur ‘n uitsiglose venster bly ek steeds staar,
in die hoop om ‘n welbekende te gewaar…

Ek voel verstoot, verlore en vreesbevange;
net my rolstoel se droë fluit in vergete gange…
Óú urine en ontlasting se reuk kleef my aan;
stort in mishandeling telkemaal ‘n traan…

Kry pakslae by poppies met rooi lippies pal,
as ek “per ongeluk” van my bed afval…
Van die bloukolle op my lyf is jy nie bewus
en my rou bedsere versteur gereeld my rus…

My uitroep is skor en eensaamheid versmoor;
ek wag vir ‘n antwoord, maar niemand wil hoor…
Bymekaar geskraap my moed al die maande;
Sin vir sin geskryf in droewige aande…

Ek wil nie graag kerm, bedoel nie om te kla,
maar in duisternis word ondraaglik die dae…
Ek weet jy is besig met belangriker goed,
maar wil jy my met vroeër se vreugde kom voed?

My kind, kom haal my, ek wil by jou wees;
kry ‘n plekkie om my pleidooi alleen te lees…
Ek sukkel om te verstaan, maar is nie kwaad;
ek pleit net vir tydjie om met jou te praat…

Nou bid ek gesondheid bly jou altyd by
en dat jou éíe kinders jou níé sal laat ly…
Dis duidelik dat die dood hier op wil duik;
ek hoop my briefie sal jou betyds bereik…

GEDIG DEUR BERNARD FIELIES
Bernard Fielies
072 271 9205
076 902 8468

Print Friendly, PDF & Email

Leave a Reply