NASIONALE VROUEDAG – 9 AUGUSTUS

Elke jaar op 9 Augustus vier Suid-Afrikaners met uiteenlopende kulture en rasse Nasionale Vrouedag. Hierdie jaarlikse openbare vakansiedag roep die datum 9 Augustus 1956 in herinnering.

Op dié dag in 1956 het ‘n groot groep vroue ‘n veldtog begin om ‘n einde te bring aan die paswette wat deur die destydse regering afgedwing is. In kort het die paswette beteken dat alle swart mense ‘n spesiale identiteitsdokument of “pas” moes dra wat hulle moes toon om te bewys dat hulle wettig ‘n bepaalde gebied, wat vir blankes geoormerk was, kon binnegaan. Dit was een van die hoofwette van die apartheidsregering en het die vryheid van beweging van swart mense ernstig aan bande gelê.

Die veldtog het begin toe ongeveer 20 000 vroue in Pretoria na die Uniegebou te voet opgetrek het om beswaar te maak teen bepaalde voorgestelde wetswysigings rakende die paswette as onderdeel van die Stedelike Groepsgebiede Wet van 1950.
Hierdie opmars is gelei deur Sophia Williams-De Bruyn (tans lid van die Provinsiale Wetgewer van Gauteng); Lilian Ngoyi (Strijdom-plein is ter ere van haar na Lilian Ngoyi Square herdoop tydens die 2006 Vrouedagvierings); Rahima Moosa en Helen Joseph (‘n boorling van Engeland en ‘n ernstige anti-apartheidsaktivis). ’n Petisie met meer as 100 000 handtekeninge is aan die Eerste Minister, J G Strijdom, oorhandig. Na die oorhandiging het die groep vir 30 minute in stilte buite die gebou gestaan waarna hulle ‘n lied begin sing het. Die woorde (vertaal) was. Noudat jy die vroue aangeraak het, het jy aan ‘n rots geslaan.” Die woorde het die durf en krag van hierdie vroue uitgedra.

Nasionale Vrouedag vieringe is sedert 1994 ingestel en vind nou jaarliks plaas. Die 50ste herdenking van hierdie gebeurtenis was in 2006 en het as hoofkenmerk gehad ‘n nabootsing van die historiese mars met talle lede van die oorspronklike mars weer teenwoordig. Nasionale Vrouedag in Suid-Afrika word hoog geag en dien as ‘n herinnering aan die groot bydraes van vroue in Suid-Afrika en is terselfdertyd ‘n geleentheid om opnuut te besin oor die regte van vroue.

 

Van die Redaksie

‘n Vriendskap tussen vriendinne is kosbaar, maar o wee …. as dinge eers begin verkeerd loop.

Die dinge begin al op skool. Elkeen soek ‘n maatjie sodat jy iewers kan “inpas en kan behoort”.

Maar vele vroue, jong kinders en jong meisies dra jare later steeds die letsels van ‘n verhouding met ‘n vriendin, maatjie in ‘n speelgroepie wat skeefgeloop het.

Wanneer dinge tuis stormagtig en gespanne is is die waarde van so ‘n maatjie/vriendin soveel meer belangrik. Iemand om die ongelukkigheid mee te deel, iemand wat sal verstaan en so die hartseer sal verminder.

Ek onthou hoe my kind as hoërskool meisie gehuil het omdat ‘n sogenaamde beste vriendin haar verraai en agteraf beskinder het. Lindi het alleen en eensaam gevoel en niks wat ek gesê of gedoen het kon haar troos nie.

Dit het ure se praat, oorreding, baie trane en geduld gekos om haar selfbeeld weer te bou en haar te verseker dat dit net jaloesie was en ongelukkig deel van die lewe.

Lianca was die een wat alles van haar geweet het, haar drome, wense en vrese. Ja ek vermoed ‘n bespreking van my en haar Pa het ook gereeld deel van daardie gesprekke uitgemaak.

In meeste gevalle is vriendinne eintlik in kompetisie met mekaar. Hulle wil soos jy aantrek, hê wat jy het en sal dikwels jou kritiseer net omdat jy meer talent het, volgens hulle mooier is, meer gewild is onder die seuns, beter op skool en/of in sport presteer of in ‘n meer gegoede familie groot word…. en so kan ek aangaan.
Daar word gedurig sarkastiese opmerkings gemaak net om jou te verneder en te verkleineer en seer te maak.

Goeie raad – Raak so gou moontlik van so ‘n vriendin ontslae om plek te maak vir ‘n beter vriendin.
Vriendinne is kosbaar en skaars en vriendskap nie te koop –so, kies jou vriendinne baie versigtig.

” ‘n Vriendin kan ‘n engel wees maar …knip haar vlerke en sy vlieg op
‘n besem verder”.