GENADE IS GENADE ALLEEN

Dwarsoor die hele wȇreld vier kerke uit die Protestantste Hervorming vanjaar die geboorte van die Hervorming of Reformasie. Albei woorde beteken om weer terug te vorm na die oorspronklike. Daar word teruggekeer na die Woord van God.

Waaroor het dit gegaan? Die Pous het aflaatbriewe laat verkoop. Die begrip aflaat is in die Gereformeerde wêreld onbekend. In die Rooms Katolieke Kerk is dit baie bekend, vandag nog. Die Engelse woord vir aflaat is indulgence. Dit kom van die Latynse indulgeo. Dit beteken: guns bewys, genadig wees, toegee. In die Rooms Katolieke Kerk het aflaat ‘n lang geskiedenis. Dit is beskou as deel van boetedoening oor sondes. Boetedoening is een van die sewe sakramente in die Rooms Katolieke Kerk.

Die sakrament van boetedoening bestaan uit vier onderskeibare aksies:

die sondaar erken sy skuld deur te bieg;
die priester lê ‘n straf op;
die straf word betaal;
die priester spreek vry (absolusie).

In die loop van die Middeleeue het die sakrament van boetedoening al meer en meer in ‘n juridiese proses ontwikkel. Die priester wat die bieg aanhoor, was meer regter as pastor. Vryspraak kan alleen plaasvind langs die weg van straf wat jy moet dra. Die strawwe het enigiets behels soos die doen van allerhande goeie werke, die opsê van gebede en selfkastyding. Jy moes voel dat jy vir jou sondes boet.
Later het vagevuurstrawwe bygekom. Dit beteken dat jy ná jou afsterwe nog steeds sekere strawwe moet dra en skuld moet betaal voordat daar volkome vryspraak kom en jy in hemelse heerlikheid opgeneem kan word. Jou siel brand in vuur om gereinig te word van alle oorblywende sondes wat jou aankleef.

In ‘n nóg later stadium van die Middeleeue het die inhoud van die kerklike strawwe verander. Die betaling van straf het finansieel geword. Jy betaal met geld om van jou straf ontslae te raak. Straf word dus ‘n geldboete. Hoe erger die sonde, hoe hoër die boete. Die betaalbewys vir die geldboete is ‘n aflaat of aflaatbrief genoem.

‘n Mens kan aflate vir jouself koop, maar ook vir ander. Daar was selfs ‘n moontlikheid om aflate te koop vir mense wat reeds gesterf het en nog in die vagevuur vir hulle sondes moet boet. Sodra die geld betaal en die aflaatbrief bekom is, kan die siel van die afgestorwene uit die pyniging van die vagevuur ontsnap en in die hemel opgeneem word.

As ons, mense met ‘n Gereformeerde of Protestantse grondslag en erfenis, hierdie dinge hoor, klink dit vir ons uiters eienaardig en verkeerd. Vir die kerkvolk van die Middeleeue was dit normaal om hiermee saam te leef. As jy sonde doen, gaan bieg en betaal jy. As jy klaar betaal het, word jy vrygespreek. (Geskiedenis gedeelte met erkenning aan dr. Gerard Meijer)

Vir ryk mense was dit maklik – jy bely en betaal en gaan aan met jou lewe sonder enige bekering. Vir arm mense het dit ‘n ondraaglike las geword om hierdie geldboetes met moeite te betaal. Van bekering en ‘n heilige lewe het daar egter niks van gekom nie.

Intussen het Maartin Luther as ‘n priester in die Rooms Katolieke Kerk baie erns gemaak met die bestudering van die Bybel. Nadat hy in April 1507 as priester georden is, het die Augustynse orde besluit dat hy teologie moet studeer. In 1512 behaal hy sy doktorsgraad in teologie aan die Universiteit van Wittenberg en word as ‘n professor in Bybelkunde aangestel. Hy maak ‘n groot ontdekking:- die mens word alleen salig deur genade en nie deur verdienste nie! (Rom. 1:17 ; Rom. 3:21-28 en Psalm 71:2).

Reeds in preke van 1516 spreek Luther hom sterk teen aflaathandel uit. Hy skryf oor die verkeerdheid van die geld-aflate aan die biskop van Brandenburg, in wie se ressort die gemeente van Wittenberg geval het.

Bogenoemde kort geskiedenis is genoeg om duidelik te maak dat die aflaatstelsel vir Luther ‘n groot probleem was. Toe die Dominikaanse monnik Johan Tetzel die sogenaamde jubileumaflaat van pous Julius II in Wittenberg begin verkoop het, was die gort gaar. Geld wat met dié besondere aflaat ingesamel is, was bedoel vir die bou van die nuwe St. Pieterskerk in Rome.

Op 31 Oktober 1517 spyker Luther sy bekende 95 stellinge teen die kerkdeur van die Wittenberg Kasteelkerk vas. ‘n Groot deel van Luther se 95 stellings het betrekking op die betaling van aflate. Dit was die geboorte van die Protestantse Hervorming, ‘n gebeurtenis 500 jaar gelede wat die wȇreld verander het.

Luther se werk was soos die van ‘n ysbrekerskip. Dit het die pad opgebreek. Sy betekenis vir die kerk van Jesus Christus is ontsaglik groot. Kerklik en teologies is die gesag van die Bybel weer bo alle twyfel gestel. Na Luther het mense sy teologiese werk voortgesit, waaronder Zwingli, Bullinger, John Knox en Johannes Calvyn. Vir ons vandag is die mooi nalentskap van die Hervorming in besonder vervat in die vyf “solas” van die Hervorming of Reformasie, naamlik Sola Fide (net geloof), Sola Gratia (net genade), Sola Scriptura (net die Woord), Solus Christus (net Christus) en Soli Deo Gloria (net aan God die eer).

Om die geleentheid te vier word almal uitgenooi om op Vrydag 29 September 2017 om 18:00 (6nm) in die kerkgebou van die Gereformeerde Kerk Stilbaai (Reservoirstraat) te kom luister na ‘n lesing deur prof Dolf Britz, bekende kerkhistorikus en emeritus professor in Kerkgeskiedenis aan die Teologiese Fakulteit van die NG Kerk in Bloemfontein. Tydens die geleentheid sal die Afrikaanse vertaling van die 95 stellings van Maartin Luther te koop wees.

Print Friendly, PDF & Email

Leave a Reply