LAPPIESBAAI REHABILITASIE PROGRAM

Hessequa Munisipaliteit het reeds in 1993 ʼn bestuursplan vir die Lappiesbaai duine in samewerking met die Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingsraad (WNNR), Departement Omgewingsake en Ontwikkelingsbeplanning (verder bekend as die Departement) en die algemene publiek ontwikkel. Hierdie bestuursplan is weer in 2011/12 hersien, ten einde dit in lyn te bring met nuwe omgewingswetgewing en ʼn volle publieke deelname proses was gevolg soos vereis deur relevante wetgewing. Omgewingswetgewing van toepassing is die Nasionale Omgewingsbestuur Wet, 1998 (Wet 107 van 1998) wat as die primêre wetgewing beskou word en die onderliggende Nasionale Wet Op Omgewingsbestuur: Geïntegreerde Kusbestuur, 2008 (Wet 24 van 2008). Hierdie wetgewing is voorskriftelik ten opsigte van duine bestuursplanne se samestelling en verleen ook goedkeuring en uitvoering tot hierdie planne.

Die Lappiesbaai duine bestuursplan is op 10 April 2017 finaal goedgekeur vir ʼn periode van 5 jaar en rehabilitasie werk aan die duine is so geskeduleer dat dit met die reënseisoen van die area saamval ten einde groei van duine plante te kan bevoordeel. Rehabilitasie werk aan die duine het reeds in Junie 2017 begin. Mnr. L. Barwell, voorheen verbonde aan die WNNR, was betrokke by die samestelling van die aanvanklike bestuursplan in 1993, die hersiening van die plan in 2011/12 en monitor die rehabilitasie werk op ʼn gereelde basis. Mnr. Barwell het ook ʼn induksie program rakende die bestuursplan met die munisipale tegniese personeel gedoen wat onder andere ook die hoogtebepaling van die duine insluit.
Gedurende die maande van Augustus en September vind seisoenale storms aan die Suid-Kaapse kus plaas en dit tesame met springgety veroorsaak erosie van die voorduine. Hierdie verskynsel en gepaardgaande gevolge daarvan word ook so geïdentifiseer in die bestuursplan. Gedurende die maand van September sal deponering van sand weer plaasvind en die duine sal dan hulle natuurlike vorm aanneem, wat die munisipaliteit weer in staat sal stel om die toegange te formaliseer. Die wegkalwe van die duine het rondom 19 Augustus begin en om die publiek se veiligheid te verseker het die Departement: Tegniese dienste die voorkant van die duin afgesper en ook so die twee toegangsroetes in die middel, ten einde die publiek te kanaliseer na die kante waar toegang na die see wel toegelaat word. Hierdie maatreëls is slegs tydelik van aard en die publiek se geduld en samewerking word waardeer.

Die bestuursplan en goedkeuring daarvan is beskikbaar op die munisipale webblad by die volgende skakel:

Coastal Management

 

Print Friendly, PDF & Email

Leave a Reply