Oordenking – DIE HERE ALLEEN IS ALMAGTIG –VERTROU NET OP HOM

Skriflesing : Psalm 115
Fokusvers :Psalm 115: 3

 

Psalm 115 is een van die psalms in die groot Hallel. Dit is die bundel Psalms (113 – 118) wat Israel vir eeue lank elke jaar met Paasfees sing. Die Hebreeuse woord hallel beteken lofprysing. Sommige noem die groep/bundel psalms die Egiptiese hallel, want hulle sing van Israel se verlossing uit die slawehuis van Egipte en die HERE se wonderlike reddingspad met sy volk.

Dit was juis hierdie psalms wat Jesus en sy dissipels gesing het in Matt. 26:30 en Markus 14:26 toe hulle die lofsang sing by die instelling van die nagmaal. Dus, net voor Jesus se lyding in Getsemane en sy dood aan die kruis op Golgota, sing Hy nog die groot Hallel. Totius beskryf dit so : “Hy, die nagtegaal van die ewigheid, het hier op die droeë doringtak van ons lewe kom sing; en nie in die taal van engele nie, maar in die taal van Israel se sangers wat ons kan verstaan.”

Psalm 115:3 stel dit baie duidelik: “Hy doen alles wat Hom behaag” Teenoor al die afgode wat niks kan doen nie, is die HERE Almagtig. Die afgode het ‘n mond, maar praat nie; oë maar sien nie; ore, maar hoor nie, voete en kan nie loop nie. Die HERE alleen is die ware hulp, Hy red, op Hom vertrou ons.

Teenoor die nietigheid van die afgode, ja Egipte se afgode, is die Almag van God. Dit word juis gesing by paasfees:

Dit is die HERE wat Abraham geroep het uit Ur van die Galdeërs,
Dit is Hy wat Josef vooruit gestuur het na Egipte.
Dit is Hy wat Josef gelei het om onderkoning te word in Egipte.
Dit is Hy wat Jakob en sy kinders gered het van hongersnood,
Dit is Hy wat met sy magtige wondertekens in Egipte die volk uitgelei het, deur die Rooisee ‘n pad oopgemaak het.
Dit is Hy wat hulle vir 40 jaar in die woestyn versorg het met water, kos, klere en skoene wat nie verslyt nie.
Dit is Hy wat Jerigo se mure laat intuimel en die vyande in hul hande gee.
Dit is Hy wat sy eie Seun gestuur het om vir al ons sondes te betaal sodat elkeen wie in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe het.

Inderdaad, Israel en ons getuig van die HERE se Almag, Hy is ‘n Almagtige God.
So sing Psalm 115 dan van die HERE se almag, teenoor die onmag van die afgode. Vertrou u op die HERE? Plaas u u probleme in Sy hande, of probeer u in eie krag alles doen en op te los? Dink daaraan as u dalk vannag rondrol en bekommernisse u wakker hou!

Ds Peet Coetzee (Gereformeerde Kerk Stilbaai –Reservoirstraat)

Print Friendly, PDF & Email

Leave a Reply