RUBRIEK STILBAAI – Vrydag 1 September.

Wat ‘n lieflike lentedag! In Stilbaai se strate en winkels krioel dit van motors en mense. Animal Protection se stalletjie op die gras voor Spar, kry goed aftrek. Dit is hul elke einde van die maand verkoping vir twee dae. Die plaat motors by die gemeenskapsaal, Vrydagoggend, was mense wat van oraloor gekom het vir Badisa se oggendtee, die Sassa ontvangers het nog ‘n sug van verligting geslaak -en was dit ook Jagersbosch se Waenhuisstalletjiedag.

Papier is geduldig, en het met die koms van tegnologie destyds – die toets van verwagtinge van ‘n papierlose wȇreld, weerstaan. Die boek is konkreet,– aards, kan vasgehou word. ‘n Koerant ritsel nog met die omblaai en regskud. Tydskrifte versier koffietafels en wagkamers en verbrei kennis van die mode en advertensiewêreld. Netwerk 24 se nuus is vlietend en kortstondig. Digitaal kan nie geruik, gevoel, gehoor, herkou of bespreek word nie. Almal is altyd haastig. – lank lewe die gedrukte media! Mens kan tog nie jou skootrekenaar op jou boekrak uitstal nie.

Gepraat van media – die gedrukte media. Die biblioteek op Stilbaai loop oor van boeke en nogmaals boeke. Nuwe boeke, ou boeke wat weer en weer gelees word, ou reekse van bekende skrywers soos oa John Steinbeck, Charles Dickens en Emily Bronté staan ‘n boonste rak byna vol. Daar is ‘n rak vir nuwe boeke wat tot vier keer per jaar beskikbaar gestel word en rakke vir Afrikaanse en Engelse jeugboeke. Naslaanboeke vir skoolprojekte is beskikbaar vir jonk en oud.

Twee rekenaars, daar was eers drie, staan daar in die bib in stille verwagting om gekoppel te word aan die internet. Daar was oor ‘n vier jaar tydperk, vandat die rekenaars geinstalleer maar nie gekoppel is nie, reeds ‘n paar ‘spanne’ IT deskundiges wat die koppeling sou bewerk. Helaas, met die laaste span, twee weke gelede, word nog ‘n borrel vir die hoeveelste keer gebars. Hoe lank nog?

‘n Voeltjie hoor fluit in die kliniek, oor die nuus dat Bertie Barnard Laerskool se Graad R’e gaan oorskuif Pikkewouters toe. Dit is goeie nuus dat Stilbaai ‘n inspuiting van jongmense met jong kinders die afgelope jaar of wat beleef het. Bertie Barnard Laerskool het sestig jaar gelede met sestig leerlinge begin. Vandag spog hy met tweehonderd en vyftig leerlinge. Pikkewouters het reeds in 1991 sy deure geopen vir jonger kinders.
Soos die bouery van nuwe huise in Stilbaai aangaan is dit geen wonder dat die skool uit sy nate bars nie.
Kwajongens het ‘n ruk gelede aan die oostekant langs die rivier ‘n paar ruite stukkend gegooi. Dit is vanadalisme, dis afbreek, dis stout.

Die bosslapers is nie gevaarlik nie.
Stables word weer Stables!

Thea Scheepers
Stilbaai 0824464058

Print Friendly, PDF & Email

Leave a Reply