Stilbaai, en sy wonders…

Met skok en afgryse het inwoners van Stilbaai Oos die ‘modderstorting’ in hul krane en toilette op Vrydag 7 September aanskou. Stilbaai Wes se water kom uit fonteine, en Stilbaai Oos se water uit die Olive Grove dam so drie kilometer uit Stilbaai, regs in die kloof. Soos altyd was die Munisipaliteit weer vinnig om die water skoon te kry. Dit was glo nie ‘n modderstorting, nie of te wel nie heeltemal nie, maar die lyne is gespoel, skoon van al die op en afdrifsels wat opbou deur die weke en maande.

In die Tuin op die Brak, staan ‘n groot Melkhoutboom. Regoor die boom is ‘n pragtige kliphuisie. Daar is deure weerskante van die venster op die stoep. Op die deure staan tans HIS en HERS. Hierdie was desjare die polisiestasie. Die ‘his’ and ‘hers’ was oorspronklik die Blank en Nie-Blank deure! Die plekkie is reeds in 1902 gebou.

Stilbaai Oos het nog ‘n skrywer opgelewer. Kate Bester is die afgelope naweek van 7 September in Kaapstad verwelkom vir die bekendstelling van ‘n boek, Nostalgie, waarin ses en twintig ander skrywers se stories oor vervloё dae opgeneem is. Kate het haar storie ‘Dag van die Sprinkaan’ by die geleentheid voorgelees. Groep 7 Drukkers het die boek uitgegee. Kate het al ‘n vervolgverhaal vir Huisgenoot geskryf en ‘n paar van haar kortverhale is in Sarie, Rooi Rose en Vrouekeur geplaas. Tafelberg gee binnekort Hartlam, ‘n bundel liefdesverhale uit, waarin drie skrywers uit Stilbaai se verhale opgeneem is. Hulle is Marié Heese, Anne Hiemstra en Kate Bester.

Mnr Nicky Deetlefs, skoolhoof van Bertie Barnard Laerskool in Stilbaai het bevestig dat die samesmelting van Bertie Barnard met Pikkewouters vir die graad R’re, nou amptelik is. Pikkewouters behou sy naam, maar nou val dit onder Bertie Barnard se ‘kampus’.

Cecilia Nel van Pikkewouters het bevestig dat daar reeds ‘n Graad R klas en ‘n pre- Graad R by Pikkewouters is. Die samesmelting met Bertie Barnard beteken dat Pikkewouters ook nou sal toegang hȇ tot die staat se hulpbronne wat hulle nie voorheen gehad het nie.

‘n Vlaag misdaad het die afgelope week van 11 – 15 September deur Stilbaai getrek. Daar was een ernstige aanranding. Twee ander inbrake het helder oordag gebeur.

Buitelanders het desjare, toe die wereld nog klein was, gedink leeus loop in die strate van Johannesburg rond. Toe is dit nou so. Vyf leeus hét die afgelope week in Johannesburg se strate rondgeloop!

Die ruimtetuig, Cassini, het sewe jaar geneem om van die aarde af Saturnus te bereik. Daar het hy dertien jaar rondom die planeet gewentel en ‘n paar fotos aarde toe gesein.

Nou is sy brandstof op. NASA druk ‘n knoppie en die tuig disintegreer. Cassini se wrakstukke wentel, wie weet waar, in die ruimte rond.

Windplase ontsier ons pragtige landskap. Voёls, kon vryelik in die hemel rondvlieg. Nou word hulle van koers af gedwing en vlieg hulle te pletter teen die draaiende meulens. Die vraag is – as die windplase nou al die wind opgeneem en gestoor het, waar gaan ons wind vandaan kom?

Thea Scheepers
082 446 4058

Print Friendly, PDF & Email

Leave a Reply