SUID-KAAP KINDERKOOR SING OP STILBAAI.

Die beroemde Suid-Kaap Kinderkoor (SKKK) van George onder leiding van die dinamiese Jan-Erik Swart tree Saterdagaand 14 Oktober 2017 om 7nm. op in ‘n galakonsert in die Gemeenskapsaal Stilbaai,op uitnodiging van die Stilbaai Musiekvereniging. Die konsert is die hoogtepunt en afsluiting van die vereniging se jaarprogram.

Die koor, onder die leiding van Jan-Erik Swart het reeds besondere hoogtes bereik, onder andere drie goue medaljes gewen en die eerste plek verower in die kategorie Musica Sacra op die belangrikste koorkompetisie ter wêreld, nl. die Agtste Olimpiese Wêreld Koorspele in Riga, Letland in 2014.Dit was ongehoord dat ‘n nuweling-koor soos SKKK so ‘n hoë standaard tydens sy eerste internasionale kompetisie behaal om bo ongeveer 240 wêreldkore wat in hulle kategorie deelgeneem het, uit te styg. In September van dieselfde jaar by die ATKV Animato Koorkompetisie-finaal in die Hugo Lambrechts Ouditorium, Parow, is die SKKK aangewys as beste algehele koor van die kompetisie, beste kinderkoor, beste uitvoering van ‘n Romantieke werk, kontemporêre werk, Afrika-Etniese werk asook beste vooreskrewe werk, en is as kampioene bekroon. In 2016 het die SKKK aan die 64ste Muziekfestival voor de Jeugd in Neerpelt, België deelgeneem en die eerste plek cum laude behaal.

Jan-Erik Swart is die koorleier sedert 1996 en het eweeens ‘n string toekennings op sy naam. Hy het ‘n B.A.Mus. UNISA,1998, Hoër Onderwysdiploma UNISA 1999 en ‘n M.Mus –graad in Koorleiding verwerf aan NMMU in 2012.Hy is vereer deur die George Munisipaliteit vir sy uitstaande prestasie met Kindrkore en hou die Hoof van die Vloot se Beste Diens Toekenning 1990. Hy was ook die SA Nasionale Wenner: Militëre orkeste 1994 en het opgetree as beoordelaar by verskeie Eisteddfods. Hy het ook natuurlik die koor gelei om die reuse suksesse te behaal soos hierbo uiteengesit.

Hierdie is voorwaar ‘n geleentheid wat nie gemis moet word nie! Kaartjies kos R100 vir lede ,R120 vir nie-lede, R50 vir Skoliere en is te kry by Lilliput, CUPZ Cafe en by die deure van die Gemeenskapsaal Stilbaai Wes. Die konsert begin stiptelik 7nm.

Print Friendly, PDF & Email

Leave a Reply