PERSOONLIKHEID VAN DIE WEEK – Roodt Cronje (Visvywerkundige)

Na elke storm verstrooi die geweldige en kragtige branders visvywerklippe langs Stilbaai se suidelike kus en op die wesstrand. ‘n Week of twee later is die klippe weer netjies reggepak. Inwoners van Stilbaai en besoekers wonder al vir baie jare wie die vywers in stand hou. Meeste van ons ken nie eers die massiewe, eintlike vywers onderkant Bosbokduin nie. Die man wat vir hiérdie vywers sorg is Roodt Cronje en andere.

Wanneer het jy begin om hierdie taak te verrig?
Ek was ses jaar oud en kon soggens nie vroeg genoeg opstaan om saam met my pa die visvywers te gaan pak nie.

Is daar mense wat jou bystaan?
Daar was eers ‘n aantal boere wat die vywers begin bou het en elkeen het sy eie vywer in stand gehou. Die boere en eienaars het die vangste onder mekaar verdeel. Die vis is in streepsakke na hul bakkies oor die los sand gedra. Daar was tot tweehonderd harders in so ‘n streepsak.

Hoe lank neem dit om die vywers na springgety weer te herstel?
Dit kan drie tot vier weke neem.

Vind jy soms nog visse in die vywers?
Ja, mosselkrakers, harders, kolsterte en elwe.

Hoekom doen jy dit?
Om vywers te pak is my passie. As dit in jou bloed is, is pak ‘n plesier. Mens kan nie sonder kennis pak nie. Met sakwater kan jy pak. Sakgety hou ses ure dan groei die water weer. Al die reguit mure wat mens hier sien is my handewerk. Die werk is interessant. Mens weet nooit wat in die volgende vywer is nie – dis soos ‘n lucky packet. Twaalf jaar gelede was die muur by Wonderwerk so hoog dat nie eers ‘n os daaroor sou kon sou kon spring nie.

Het jy al ooit gehengel?
Ja, ek het met ‘n visstok vis gevang maar ek het my tevrede gevang en nou is dit ek en die vywers.

Vertel meer van die visvywers.
Die eintlike visvywers is by Noordkapperhoek/Rooisandkoppe.
Daar is ook vywers wes van die hawe. Hulle word egter nie meer versorg nie. Vandat Stilbaai se ligte oor die see skyn, het die harders, wat ‘n nagvis is en bo-op die waters swem, opgehou om hier te kom. Die vywers is dus aan die natuur oorgelaat. Roodt het verlede jaar, 2016, vrywilligers gevra om te kom help om die hawe-vywers te herstel. Hy het dit op die ou end self gedoen. ‘n Taai en toegewyde man hierdie.
Vir vis gaan dit oor donker. ‘n Harder loop vir ses maande van einde Mei tot Oktober. Dit is dan vangtyd vir die kontrei. Die mure moet egter die hele jaar in stand gehou word anders verwaarloos dit. Die see maak die mure plat. Die gate in die muur raak groter daarom moet daar gereeld gepak word.
(Net toe kom twee manne van seevissery hier by ons aan. Hulle belet die mense wat hierdie oggend, 18 September, die vywers pak, om van die visse te neem. Die visse-polisie is glad nie tegemoetkomend nie. Later kom daar nog ‘n man met ‘n maatstok.) Visse word nie meer geweeg nie maar gemeet.

Wat maak hulle met die baie visse wat hulle aantref en klaar meet?
Hulle gooi dit terug.

Vir wie?
Vir die hengelaars en die diepsee vissermanne.

Het die weerpatrone verander die afgelope jare?
Ons kry minder reёn. Die rivier het lanklaas afgekom. Gewoonlik kom hy tot drie keer per jaar af.

Uit watter rigting kom Stilbaai se reёn gewoonlik?
Uit die suid-weste of die suid-ooste. Dit het soms agt dae lank gereёn dan kom die reёnvlae soos gordyne oor die rivier.

Wat is jou lewensfilosofie?
Gee en vir jou sal gegee word. Die Vader gee vir ons visse. Ons gee dit weer aan ander. Destyds kon ons nog vang net soveel as wat ons kon. Daar was op ‘n keer 3500 harders in die vywers. Ons het dan maats gebel om te kom deel in die oes. Daar was nog altyd kos op die tafel en die pan sal kan loop.

Vir oulaas:
Met die wegstap van die bankie af, sien ons grysbokkiespore oor die sand. Hulle is agter die heerlike soet, vars water aan wat deur die klippe syfer beduie Roodt.
Hy roep vir Thabo. Hy moet net gou die laaste klip pak. Roodt gaan vanjaar afgee.
Die vywers waaraan Roodt sewentig jaar lank gewerk het, is nou in die hande van seevisserye.
Roodt sal enigiemand wat wil, met sy kierie wys hoe die klippe gepak moet word. Hy het ‘n skatkis vol visvywerstories wat gaan oor hoe dinge in die verlede gedoen is, oor mededeelsaamheid en regverdigheid en so aan.

Roodt Cronje: 028 754 1624

Thea Scheepers

Stilbaai, en sy wonders…

Met skok en afgryse het inwoners van Stilbaai Oos die ‘modderstorting’ in hul krane en toilette op Vrydag 7 September aanskou. Stilbaai Wes se water kom uit fonteine, en Stilbaai Oos se water uit die Olive Grove dam so drie kilometer uit Stilbaai, regs in die kloof. Soos altyd was die Munisipaliteit weer vinnig om die water skoon te kry. Dit was glo nie ‘n modderstorting, nie of te wel nie heeltemal nie, maar die lyne is gespoel, skoon van al die op en afdrifsels wat opbou deur die weke en maande.

In die Tuin op die Brak, staan ‘n groot Melkhoutboom. Regoor die boom is ‘n pragtige kliphuisie. Daar is deure weerskante van die venster op die stoep. Op die deure staan tans HIS en HERS. Hierdie was desjare die polisiestasie. Die ‘his’ and ‘hers’ was oorspronklik die Blank en Nie-Blank deure! Die plekkie is reeds in 1902 gebou.

Stilbaai Oos het nog ‘n skrywer opgelewer. Kate Bester is die afgelope naweek van 7 September in Kaapstad verwelkom vir die bekendstelling van ‘n boek, Nostalgie, waarin ses en twintig ander skrywers se stories oor vervloё dae opgeneem is. Kate het haar storie ‘Dag van die Sprinkaan’ by die geleentheid voorgelees. Groep 7 Drukkers het die boek uitgegee. Kate het al ‘n vervolgverhaal vir Huisgenoot geskryf en ‘n paar van haar kortverhale is in Sarie, Rooi Rose en Vrouekeur geplaas. Tafelberg gee binnekort Hartlam, ‘n bundel liefdesverhale uit, waarin drie skrywers uit Stilbaai se verhale opgeneem is. Hulle is Marié Heese, Anne Hiemstra en Kate Bester.

Mnr Nicky Deetlefs, skoolhoof van Bertie Barnard Laerskool in Stilbaai het bevestig dat die samesmelting van Bertie Barnard met Pikkewouters vir die graad R’re, nou amptelik is. Pikkewouters behou sy naam, maar nou val dit onder Bertie Barnard se ‘kampus’.

Cecilia Nel van Pikkewouters het bevestig dat daar reeds ‘n Graad R klas en ‘n pre- Graad R by Pikkewouters is. Die samesmelting met Bertie Barnard beteken dat Pikkewouters ook nou sal toegang hȇ tot die staat se hulpbronne wat hulle nie voorheen gehad het nie.

‘n Vlaag misdaad het die afgelope week van 11 – 15 September deur Stilbaai getrek. Daar was een ernstige aanranding. Twee ander inbrake het helder oordag gebeur.

Buitelanders het desjare, toe die wereld nog klein was, gedink leeus loop in die strate van Johannesburg rond. Toe is dit nou so. Vyf leeus hét die afgelope week in Johannesburg se strate rondgeloop!

Die ruimtetuig, Cassini, het sewe jaar geneem om van die aarde af Saturnus te bereik. Daar het hy dertien jaar rondom die planeet gewentel en ‘n paar fotos aarde toe gesein.

Nou is sy brandstof op. NASA druk ‘n knoppie en die tuig disintegreer. Cassini se wrakstukke wentel, wie weet waar, in die ruimte rond.

Windplase ontsier ons pragtige landskap. Voёls, kon vryelik in die hemel rondvlieg. Nou word hulle van koers af gedwing en vlieg hulle te pletter teen die draaiende meulens. Die vraag is – as die windplase nou al die wind opgeneem en gestoor het, waar gaan ons wind vandaan kom?

Thea Scheepers
082 446 4058

LENTE REEKS KORPORATIEWE AVONTUUR GHOLF NOOI SPELERS UIT

Die eerste Lente Reeks Korporatiewe Avontuur Gholftoernooi, aangebied deur die KANSA Relay For Life Mosselbaai, in samewerking met Hartenbos Seefront en ATKV Hartenbos, was baie geslaagd.

Sowat vyf spanne het reeds ingeskryf en hulself gate uit geniet! Besigheidsspanne van onder meer FNB Langeberg Mall en Seesig Motors het hul verskyning gemaak in prettige uitrustings en hierdie nuwe en eerste reeks van sy soort, gaan beslis nog bo verwagting groei. Natuurlik was die geleentheid ook goed ondersteun deur die publiek!

Die goeie nuus is dat deelnemende spanne hoegenaamd nie bekommerd moet wees dat hul gepenaliseer word as hulle nie elke liga wedstryd bywoon nie. Die puntestelsel word so uitgewerk dat elke deelnemende span ‘n regverdige kans staan om te wen.
Kostes beloop R25 per persoon en familielede is welkom teen R15 per persoon. Wedstryddatums is 21 September, 28 September, 12 Oktober, 19 Oktober, 26 Oktober en 2 November.

Enige individu of besigheid kan deelneem en spanne bestaan uit vier persone. Die finale word op 2 November gespeel en die wenspan sal ‘n wisseltrofee ontvang vir hierdie jaarlikse gebeurlikheid.

Die Lente Reeks Korporatiewe Avontuur Gholf uitdaag is ‘n fondsinsamelingsprojek vir die Relay For Life wat op 4 November in die ATKV Pretpark by Hartenbos Seefront aangebied word. Reeds gedurende Oktobermaand sal die publiek merk dat Hartenbos Seefront stelselmatig in pers gehul word, ter bewusmaking vir kanker in die algemeen. Verskeie inkopie-winkels in die Sentrum sal ook spesiale aanbiedinge vir die maand hê. Op 3 November is dit Purple Friday by Hartenbos Seefront en om 18:00 vind die Purple Friday Walk vir die hele gesin by die Hartenbos Seefront plaas. Op Saterdagoggend begin die baie vol program vir die CANSA Relay For Life Mossel Bay reeds om 12:00 met ‘n Put Put kompetisie, gevolg deur die Bark For Life vir ons honde-kinders, ‘n skopfietskompetisie vir die kleuters, ‘n Spinning kompetisie by Wellness World en dan die amptelike opening van die Relay om 18:00.

Spanne word aangemoedig om nou reeds in te skryf vir die jaarlikse Relay.
Vir meer inligting, kontak Denise Lloyd by
084 444 5873 of-
epos by delloyd@mweb.co.za.