Oordenking   Glo in God se beloftes

Ds Peet Coetzee – Gereformeerde Kerk Stilbaai (Reservoirstraat)

Lees : Numeri 13
Fokusvers : Numeri 13: 27-31

Het u al gedink of gesȇ: Die magte wat ons bedreig is te veel, te groot, te magtig? Ons kan nie weerstand bied nie. Wat help dit tog om te probeer? Numeri 13 leer ons ‘n baie belangrike saak. Israel trek uit Egipte na 400 jaar. Voor hulle is die beloofde land, nog net ‘n laasste kraginspanning en dan kom rus. Moses stuur twaalf verspieders uit om die land te verken. Hulle doen goeie werk en hulle verslag is positief wat die land aanbetref. Goeie land, loop oor van melk en heuning, vrugte is verstommend. Daar is egter een probleem – die volk wat reeds daar woon is sterk en die stede baie versterk. Hulle het selfs reuse, die kinders van die Enakiete gesien.

Tot sover is die verslag eenparig, die feite is korrek. As hulle egter by die aanbevelings kom, gaan die paaie uiteen. Tien verspieders wys hulle kleingeloof. Hulle het te groot geskrik vir die mense en die reuse. Hulle hou dit nie vir hulleself nie, maar vertel dit vir die volk. Die storie word al hoe erger sodat die reuse so groot is dat hulle soos sprinkane in hulle oë was. Dit is die taal van kleingeloof en ongeloof wat die HERE nie raaksien nie en nie op sy beloftes vertrou nie.

Teenoor die tien is daar twee, Josua en Kaleb wat anders praat. Hulle verskil nie oor die feite nie, maar hulle glo!! Hulle glo in die Here se beloftes dat Hy vir hulle die land beloof het en Hy hulle sal help om dit in besit te neem. Daarom hulle aanbeveling: “Ons moet beslis optrek en die land in besit neem, want ons kan dit doen.” Wat was die fout? Die meerderheid vergelyk hulleself met die geoefende soldate, die versterkte stede en die reuse, maar Josua en Kaleb vergelyk dit alles met die HERE. In die oë van die HERE is die soldate, die versterkte stede en die reuse soos ‘n stoffie, ‘n nietigheid.

Wat ‘n tragiese verhaal. Die volk vergeet die magtige dade van die HERE in Egipte met die tien plae, hulle vergeet die wonder van die Rooisee – en die gevolg – veertig jaar rondswerwe tot al die volwassenes gesterf het, behalwe Josua en Kaleb. Na veertig jaar trek hulle Kanaan binne, Jerigo se mure tuimel om, die een stad na die ander val. Die HERE stry vir sy volk.

Wat leer dit vir ons? Ons is nie blind vir die realiteite van die dag nie. Ons sien die reuse probleme, groot bedreigings, ons sien Satan aan die werk., maar ons vergelyk dit alles nie met ons (klein nietige mense) nie, maar met God. As ons al die probleme met God vergelyk, is selfs die grootste probleem in my persoonlike lewe nietig en klein. Waarom dan twyfel, waarom moedeloos raak? In en deur Jesus Christus is ons doelgerig op pad na die beloofde land, die beloofde erfenis, die ewige lewe met God.

Print Friendly, PDF & Email

Leave a Reply