12 INTERESSANTE FEITE OOR HONDE

Honde het ‘n veel interessanter geskiedenis as wat die meeste van ons vermoed. Het jy gedink jy weet baie oor honde? Lees hierdie interessante feite en dink weer.

Alle honde stam waarskynlik van ‘n klein grys wolf af. Hulle is oorspronklik gedurende die Paleolitiese Tydperk deur mense getem en het skynbaar ongeveer 13,000 jaar gelede die eerste keer in Eurasië verskyn.

Dingo’s is nie inheems in Australië nie – hulle is die eerste keer duisende jare gelede deur immigrante daar gevestig.

Honde is tropdiere en leef volgens ‘n streng hiërargiese stelsel. Selfs in ‘n huishoudelike opset, waar daar meer as een hond is, sal net één die ‘baas-brak’ wees.

Honde is uiters territoriaal en dit is hoekom dit maklik is om hulle as waghonde op te lei.

Honde hoor beter as mense en katte. Hulle kan klanke van 35,000 vibrasies per sekonde hoor (vergeleke met ons 20,000 en ‘n kat se 25,000).

Die grootste honde is die Great Dane en die Ierse Wolfhond. Die kleinste is die Chihuahua, die Yorkshire Terriër en die Toy Poedel.

‘n Mens het ongeveer 5 miljoen reuk-reseptors, wat maar min is in vergelyking met party honderasse: ‘n Worshond het 125 miljoen en ‘n Wolfhond 220 miljoen.

Verskeie honde het die rol van Lassie in ‘n reeks rolprente gespeel.

Die vinnigste honde op aarde is Windhonde wat ‘n topspoed van ongeveer 72km per uur kan bereik.

Die Poedel se haarsnit het, al klink dit snaaks, oorspronklik ‘n doel gehad. Dit het hierdie jaghond se swemvermoë verbeter en die ‘pom-poms’ is daar gelos om hulle gewrigte warm te hou.

Op ouderdom een is ‘n hond die ekwivalent van 16 mens-jare oud; op twee is hulle 24 en op drie is hulle 30. Vir elke hond-jaar daarna, tel 4 mens-jare by.

Oorlewendes van die Titanic sluit twee honde in: ‘n Pekinees en ‘n Pomeraniër.

(Verwysings: mytopdogs.com; funnyfidos.com. randomhistory.com)

Print Friendly, PDF & Email

Leave a Reply