ADULT EDUCATION TRAINING (AET) GRADEPLEGTIGHEID

Die 2016/2017 Adult Education Training (AET) gradeplegtigheid het op 6 Oktober 2017 te Riversdal plaasgevind.

Die spoggeleentheid is aangebied deur Hessequa Munisipaliteit in samewerking met diensverskaffer Siyaphambili Training Solutions.

Altesaam het sestien munisipale amptenare hul AET sertifikate ontvang vir verskillende vakke wat voltooi is.

Tydens ʼn vaardigheidsoudit van die munisipaliteit se amptenare in 2012, is bevind dat 24% van die werkerskorps nie Graad 9 voltooi het nie. Die munisipaliteit se Menslike Hulpbronne afdeling het die afgelope drie jaar fokus op geakkrediteerde onderrig van die amptenare geplaas en is ʼn kontrak met ʼn diensverskaffer gesluit om amptenare die geleentheid te bied om hul Graad 9 kwalifikasie te verwerf.
Die munisipaliteit het by Local Government Sector Education and Training Association (LGSeta)aansoek gedoen vir befondsing en is die geleentheid van na-ure opleiding beskikbaar gestel aan belangstellende amptenare.

Verskeie amptenare wat reeds hul Graad 9 verwerf het, het ook die geleentheid aangegryp om hul Wiskunde en Engelse kennis/vaardighede te verbeter. Tydens die drie jaar periode, is familielede van amptenare, ook die geleentheid gebied om deel te vorm van die program en het teweeg gebring dat amptenare saam met hul vrou/man of kind hierdie leerprogram kon voltooi.

Munisipale Opleidingsbeampte Lemona Kleinhans noem dat amptenare twee keer per week, na-ure klasse bygewoon het, maar dat die verskeie opofferings hulle nie gestuit nie.
Die gemiddelde slaagsyfer vir die drie jaar periode was 85%.

Uitvoerende Onderburgemeester, Raadslid Johannes Hartnick, Munisipale Bestuurder Johan Jacobs en Direkteur Korporatiewe Bestuur, Marina Griesel het die geleentheid namens die munisipaliteit bygewoon.

Johan Jacobs noem dat die munisipaliteit voorwaar trots is op die amptenare wat van hierdie geleentheid gebruik maak en wens almal geluk met hul onderskeie prestasies.

Print Friendly, PDF & Email

Leave a Reply