RUBRIEK UIT STILBAAI

Amper spring ons te gou op ons perdjies! Stilbaai word nie ‘n hondedorp nie. Daar is nog honde verbode bordjies by die rivier se Wesmond, en by Lappiesbaai is daar addisionele borde wat beklemtoon dat honde nie op die strand mag kom nie. Dit is nie seker of die blouvlagstrande net vir binne seisoen bedoel is nie. ‘n Blouvlag loodsbordjie is by die ablusiegebou naby die gemoderniseerde huise, wat die jare-oue wesstrandhuisies vervang het, aangebring. Die plekkie daar is ook netjies plavei. Dit lyk sommer pure status. Die bord maak egter net melding van die waterkwaliteit en omgewingsbestuur maar niks oor honde nie. Buite seisoen moet stappers maar koes-koes op die sand loop om nie op ‘n bol te trap nie? Honde eienaars tel nie altyd hul hul honde se bolle op nie.

By Lappiesbaai is daar buiten die ander verbode goed iets wat mens nie dadelik raaksien nie – dit is dat daar nie visgevang mag word nie – nou ja, hoe sal mens ooit ‘n vissie kan nadertrek as die strand vol jillende kinders is. Hierdie verbode blyk dan net vir binne seisoen te wees.

Vissermanne staan die afgelope weke die rivier vol. Dit is mos Oktober – die maand vir visvang. Knorhane/Grunters is glo redelik volop.

Die rivier is toe. Die sandbank in die middel word al hoe langer. Dis tyd dat hy afkom en die sandbanke weer terug see toe stoot. Op hierdie noot – dit lyk asof die padbouery by die brug byna klaar is. Wel, meer klaar as wat dit verlede jaar hierdie tyd was. Dit sal veral gaaf wees as die wal onderkant die begraafplaas heeltemal toegepak sal wees sodat die grafte daar op die bult weer waardigheid sal kry. Die vasgepakte bult sal ook die grafte beskerm teen dalk groot reёn en onverwagte stormwaters. Die eerste Stilbaaier is in die jaar 1929 daar begrawe en die mees onlangse een in 1999.

Die NG Kerkbasaar wat verlede naweek gehou is, het weereens uitgehang met wat te koop aangebied word. Lidmate het geswoeg en gesweet om veral die voortreflike ontbyt wat al bekendheid verwerf het, voor te sit.

Waarom is pannekoek so lekker? Dis tog net ‘n flentertjie gaar deeg met kaneelsuiker.

Pannekoek het deur die jare monde laat water en talle kerke en skole is met die opbrengs gebou. Aan al die pannekoekbakkers deur Suid Afrika se geskiedenis – ons opregte dank.

Uiteindelik staan die gewerskaf by die eerste kruidenierswinkel einde se kant toe. Die poort was, vir die wat kan onthou, eers met ‘n dakkie en ‘n vaal kleur. Nou spog die poort met ‘n pragtige blou kleur en effense verandering in die bewoording. Die kleur het wel verander maar die naam het gebly.

Asof die vyf leeus in Johannesburg se strate nie genoeg was nie – daar is nou agt leeus in Johannesburg én ‘n luiperd in Kempton Park!
Sanksies werk tog. As dit so is, waarom lanseer Kim Jong Un van Noord Korea die afgelope maand nie nog missiele nie?

Studente en skoliere soek eers werk in Stilbaai en dan slaapplek. Werk is volop in die vakansie want die voete is vreeslik baie maar slaapplek is te min. Dit maak hierdie plek van ons so lekker. Dinge verander, maar langsaam. Verandering is nie altyd goed nie.
Thea Scheepers

Print Friendly, PDF & Email

Leave a Reply