LA TRAVIATA – In Stilbaai

ʼn Produksie van Verdi se immergewilde La Traviata in Stilbaai, op die oewer van die Gouka-rivier, het die pas afgelope Desember die kunstenaarlewenservarings van die lede van die Sempre Opera-geselskap aansienlik ryker daar laat uitsien. Om in die natuur, omring met olyfboorde met die rustige klanke van ʼn kabbelende stroom ʼn opera op die planke te sit, is nie net ʼn uitdaging nie, maar ook reuse voorreg.

In opdrag van Altus Joubert, eienaar van Riethuiskraal en Kransfontein, het 16 lede van Sempre Opera al die pad van Pretoria af gereis om saam met die tenoor Stéfan Louw en sopraan Anina Wasserman ʼn ingekorte weergawe van La Traviata uit te voer.

Die opera is gebaseer op die drama “La dame aux Camélias” van Alexandre Dumas. Dit speel af in Parys (Frankryk) en handel oor die courtisane, Violetta Valery, gesing deur Anina Wasserman, wat verlief raak op Alfredo Germont, gesing deur Stéfan Louw. Violetta ly egter aan tering en sterf tragies aan die einde. Violetta se vriendin Flora Bervoix is vertolk deur die mezzo-sopraan Linette van der Merwe en haar kamermeisie wat ook as verteller opgetree het, was die mezzo-sopraan Riana van Vollenhoven. Ander rolle sluit in, Danie Verster (bariton) as Gorgio Germont, Alfredo se vader; Chris Mostert (tenoor) as Gastone de Letorières, Alfredo se vriend; Lourens de Jager (bariton) as Barone Douphol, een van Violetta se minnaars; Rex Nigrini (bas-bariton) as Marchese d’Obigny en Dottore Grenvil. Die sangers is begelei deur die Sempre Opera Instrumentale Ensemble onder leiding van die dirigent, Schalk van der Merwe. (Irma Huysamer)

Print Friendly, PDF & Email

Leave a Reply