STILBAAI BELANGEFORUM (SBF) – Almal welkom !!

Algemene Jaarvergadering | Maandag, 12 Februarie 2018 om 16:00
Palinggat-Oord Saal, Stilbaai-Wes

Tydens die Algemene Jaarvergadering, gaan die Munisipale Bestuurder, Mnr Johan Jacobs, die vergadering inlig wat die Hessequa Munisipaliteit met Erf 657, Stilbaai Wes be-oog.

Hierdie erf behels die groot oop spasie aan die oorkant van die munisipale kantore wat al langs Hoofweg-Wes loop vanaf die Jongensfonteinpad tot by die Gholfbaan (Arendstraat). Die vierde sykant van hierdie pragtige stuk grond, is Bosbokduinlaan bo-op die bult wat die Jongensfonteinpad met Skulpiesbaai en Bosbokduin verbind.

Die SBF se standpunt tov hierdie strategiese stuk grond word hieronder uiteengesit. Dit is onderhewig aan wysigings en aanpassings wat gegrond sal wees op die insette wat gelewer, en die voorstelle wat gemaak gaan word deur lede tydens die komende jaarvergadering. Die Stilbaai Belangeforum is versoek om ‘n aanbeveling te maak aan die Hessequa Munisipaliteit oor die genoemde stuk grond.
Aangesien die sogenaamde “urban edge” vir die afsienbare toekoms (tot soveel as 30 jaar) blykbaar nie uitgebrei gaan word nie, sal iets met hierdie strategiese stuk grond noodwendig moet gebeur. Dis gemene saak dat die status quo nie onbepaald gehandhaaf sal kan word nie.

Die gemeenskap van Stilbaai is baie geheg aan hierdie ongerepte stuk grond en beskou dit juis as een van die faktore wat ons dorp so ‘n aantreklike bestemming maak. Waar elders kry mens so ‘n pragtige stuk grond met van die mooiste kusbos in die omgewing, in die middel van ‘n dorp ? Baie inwoners glo dat die bosbokke, grysbokkies en duikers asook talle soorte skilpaaie wat mens so dikwels sien, juis hulle weg na die dorp vind deur hierdie groen strook.

Die grond is ‘n munisipale bate en waar die munisipaliteit deurlopend onder finansiële druk verkeer, moet iets gedoen word in belang van, nie alleen die munisipaliteit nie, maar inderdaad ook in die belang van die hele samelewing met insluiting van vakansiegangers en toeriste wat Stilbaai spesifiek opsoek vir bogenoemde redes.

Die voorstel dat die hele gebied as natuurbewaringsgebied geproklameer word om as brug te dien tussen die Palinggat groengebied en die Skulpiesbaai Natuurreservaat, maak sin omdat die groen gebied wat langs die weg vergroot sou
kon word, feitlik ononderbroke, veilige en besonder aantreklike staproetes en fietspaaie vir inwoners en vakansiegangers sou kon bied. Dit mag mettertyd ‘n goeie belegging blyk te wees om benewens die strande en die rivier as ‘n verdere besondere trekpleister te dien om toeriste na ons dorp te lok, veral in die lig van die toenemende bewuswording van die verwoesting van die omgewing wêreldwyd. ‘n Groen ongerepte dorp word algaande al hoe meer spesiaal en gesog. (Vervolg)

Van die Redaksie

Met die aanbreek van die nuwe universiteitsjaar hoor ek hoe die opgewonde jong skoolverlaters met soveel opwinding uitsien na die eerste jaar as student weg van die huis.

Ek kan nie help om met ‘n glimlag terug te dink aan my eie kind se studente dae nie.
Ja, daar wag verseker nog ‘n paar minder aangename verrassings op hulle en op hul ouers.

Die opwinding van ‘n eie blyplek maak vinnig plek vir al die verantwoordelikhede wat daarmee saamgaan.
Met ‘n skok besef hulle … daar is nie meer net elke aand ‘n bord tuisgemaakte kos nie. Grace is nie meer daar om skoon te maak, wasgoed te was, te stryk, bed op te maak ens., ens., nie !

Na so 3 weke op haar eie het ek gaan kuier.
Nog nooit was ek met soveel blydskap ontvang nie en kort voor lank borrel dit uit.
“Ma, om so op jou eie te bly het my laat besef – daar is nie elke dag net kos nie. Jy moet dit eers gaan koop, dan gaarmaak, eet en dan nog opruim en skottelgoed was ook.” Die wasgoed …, bed opmaak …, die stort…,” en so babbel sy aan.

Maar ek moet sê, na ‘n paar maande het sy dit “genail” (soos sy dit gestel het) en selfs haar begroting het geklop.

Dit alles, nie sonder hulp, trane, ondersteuning, bemoediging en gebed nie.

So vir die ouers met alleenbly kinders op universiteit, moet nie onnodig stres nie. Ten spyte van al jou bekommernisse, is die kans baie goed dat jou kind jou aangenaam gaan verras.

Hoe moeilik ookal, hulle wil net hê ons moet hulle vertrou, hulle foute vergewe en hulle die geleentheid gee om hulself te bewys.