Die Groot Boek leer ons van die liefde – Onvoorwaardelike liefde      

Die volgende storie, met vergunning – soos aan my vertel deur Pietman Traut – ‘n ware storie…

Oom Willem Avenant en sy vroutjie Letta, of soos die kinders haar genoem het – tannie Nanna, het vir baie jare geboer op die plaas Biesiespoort in die Kalahari langs die Gemsbokpark.

Die oom het ‘n klompie kamele gehad – so 40 altesaam – wat redelik wild was, maar hy was baie erg oor hulle. So nou en dan wanneer daar kuiergaste kom, ry die oom so ‘n draai met sy bakkie om interessanthede te wys op die plaas en terselfdertyd sommer van die geleentheid gebruik te maak om te kyk hoeveel kameelkalfies daar weer die jaar “aangekom” het. Maar ag wat, dit was ook maar ‘n vrugtelose besigheid, want hulle draf sommer vinnig-vinnig onder die bakkie uit doer ver oor die rooi duine en dan moet die oom maar omdraai want die plek raak selfs vir ‘n 4×4 te onbegaanbaar…

Ieg, so is die oom toe in 1987, die jaar van die groot droogte, oorlede en die familie kom van heinde en verre vir die begrafnis. Jy sien die rooi stowwe van veraf uitslaan soos die karre opgery kom na die plaashuis. Die oom is toe begrawe in die familiekerkhof op die plaas en die volgende aand, na als oor en verby is, sit tannie Letta en ‘n paar van die familielede op die stoep en koffie drink toe hulle ‘n stofwolk sien opkom na die huis se kant toe.

Stomgeslaan sit die klompie die naderende stofwolk en bekyk – en wraggies – toe dit die klomp wilde kamele wat in ‘n ry afgeloop kom – reguit kerkhof toe waar oom Willem se graf pas opgemaak is. Een vir een het hulle daar gedraai om die graf terwyl hulle saggies bulk en toe, net so saggies soos hul gekom het, verdwyn hul weer die woestyn in…

Tannie Nanna vra toe “Ouswaer, wat het nou hier gebeur?” waarop oom Traut antwoord “Letta, ek dink die kamele het vir Willem kom groet…”

Liefde is soms woordeloos – maar nie minder opreg nie

Mag ons woorde sag wees teenoor mekaar in hierdie dag.

-Emma

Print Friendly, PDF & Email

Leave a Reply