OLIMPIESE DAG 2015

7

ALBERTINIA, HESSEQUA MUNISIPALITEIT, 24 SEPTEMBER 2015

Na die suksesvolle aanbieding van die OLIMPIESE DAG in Hawston [2013] en Prins Albert [2014], het die Wes-kaap Provinsiale Sportkonfederasie in vennootskap met die Wes-Kaapse Departement van Kultuur-sake & Sport, Eden Sportraad en Hessequa Munisipaliteit beslis om die 2015 OLIMPIESE DAG te Albertinia op Donderdag, 24 September 2015 aan te bied.
Hierdie SASKOK inisiatief vorm deel van ʼn bewusmakingsproses vir die RIO 2016 OLIMPIESE SPELE. Die WKPSK het besluit om hierdie geleentheid na Albertinia te neem as deel van die bevordering van sport in die platteland. Verskeie hoogwaardigheidsbekleërs sal die byeenkoms bywoon, waaronder die Uitvoerende Burgemeesters van die Eden Distrik asook Olimpiese atlete wat boorlinge van Eden Distrik.

Albertinia in die Hessequa-streek spog met hulle eie internasionale sportsterre. Die legendariese Elana Meyer (atletiek), Stephan Terblanche (rugby) en Louis Oosthuizen (golf). Dyan Buis (Paralimpiese atleet) van Riversdal en Isabel le Roux, Olimpiese atleet in Beijing 2008, sal ook die verrigtinge bywoon.

Die tema van die dag is “Beweeg, Leer en Ontdek”. Meer as 400 deelnemers vanuit die sportsklubs en skole in Hessequa sal op hierdie dag in aksie wees. Die deelnemers sal die beeld van hul onderskeie dorpe in Hessequa verteenwoordig tydens ʼn parade.

Die huidige sowel as Olimpiese sportkodes uit die verlede sluit in: Atletiek, Sewes-Rugby, Boks, Fietsry, Stoei, Gimnastiek, Gewigoptel, Tafeltennis, Tennis, Hokkie, Skerm, Perdry, Gholf, Paralimpiese Sport en Toutrek. Nie-Olimpiese sportsoorte soos Bofbal, Sokker, Jukskei, Netbal, Domino’s en Wedvlugduiwe sal ook aangebied word op die dag, asook sportkodes vir gestremdes.

Op 23 Junie 1894 is die Internasionale Olimpiese Komitee daargestel om die Antieke Olimpiese Spele te laat herleef. Die herdenking van die Spele vind elke jaar plaas deur die OLIMPIESE DAG aan te bied.

Die eerste OLIMPIESE DAG is gevier deur nege Nasionale Olimpiese Komitees naamlik, Oostenryk, België, Kanada, Groot Brittanje, Griekeland, Portugal, Switserland, Uraguay en Venezuela. In 1987 het die IOK se “Sport for all Commissions” die OLIMPIESE DAG HARDLOOP konsep bekendgestel met die doel om deelname in sport deur mans, vroue en kinders uit alle dele van die wêreld, ongeag die atletiese vermoë, te bevorder. Die eerste OLIMPIESE DAG HARDLOOP was in 1987 oor ‘n afstand van 10km gehou en 45 NOK’s het deelgeneem.

Deesdae word OLIMPIESE DAG deur miljoene mense in meer as 160 lande gevier. Die herdenking van die geboorte van die modern Olimpiese Spele deur middel van die OLIMPIESE DAG, is meer as net feesvieringe, maar eerder ʼn internasionale poging om vyf opvoedkundige waardes te bevorder deur:
1. Genot en poging,
2. regverdigheid,
3. respek vir ander,
4. strewe na uitnemendheid en
5. balans tussen liggaam, wil en verstand.
Vir meer inligting, kontak:
Dave van der Walt by 082-7734901 [sportcouncil.eden@gmail.com] or
Zaghra Savahl by 083-3567026 [Zaghra.savahl@westerncape.gov.za]

Print Friendly, PDF & Email