DIE BUSY LIZZIE HUIS – en TUINBOUKLUB

Die Busy Lizzie Huis­ en Tuinbouklub Stilbaai was Woensdag, 14 Oktober op hulle laaste toer vir 2015. Ons het Sheilam Kwekery by Klaasvoogds­Wes besoek. Daar is ons op ‘n begeleide toer ingelig oor die groot verskeidenheid kaktusse, vetplante, broodbome en ander plante se groeiwyse en gebruike. ‘n Mens kan jou verkyk aan die verskeidenheid:

sommige letterlik bome en ander piepklein groeiers onder jou voete. Wat ons as dorings beskou is aangepaste blare en party lyk soos ‘n koek wat met groot sorg versier is.

Vanaf Sheilam het ons vertrek na Willow Creek in die Nuy Vallei naby Worcester. Daar kon ons na hartelus proe aan hul verskeidenheid olyfprodukte terwyl ons oor die gebruik van elk ingelig is. Willow Creek se olyfolie is die enigste Suid Afrikaanse “Extra Virgin” olyfolie onder die eerste 100 op die wêreldranglys.

Die olyfpitspoegkompetisie was groot pret. Mans en dames het elk ‘n olyf gekry om te eet
en dan die pit vir die kompetisie gespoeg. Praat van verborge talente! Die eerste twee wenners in elke groep het Willow Creek produkte as pryse ontvang.

Nou sien ons uit na ons afsluitingsfunksie, 17 November 2015, in die Stilbaai Gemeenskapsaal. Die funksie sal ‘n fondsinsameling wees vir Huis Stilbaai en Jagersbosch Gemeenskapsorgsentrum. Die gasspreker is Ernst van Jaarsveld en tesame
met mooi musiek beloof dit om ‘n heerlike oggendtee te wees. Belangstellendes kan navraag doen by
Leoné de Koning by 082 840 9157, of by Christa Kunz by 028 754 2488

Print Friendly, PDF & Email