TUINMAAK met Leani

Sonde met die bure

Veral hier by die see waar plante in meer uitdagende omstandighede moet groei, is dit soms hartsverskeurend om te hoor dat die plant of boom wat jy graag in jou tuin wil sien, ‘n indringer spesie is. Sommige mense raak dan skoon omgekrap en sê dat die indringer lys net daar is om hul siel te versondig en die lewe moeilik te maak.

So wat moes die arme plant gemaak het om die indringer lys te haal?
Met al ons wonderlike inheemse spesies plante hier, het ons voorouers in 1830 nie geglo dat ons die nodige plante reeds hier het vir duin stabilisering nie, en hulle bring toe die Rooiputjie van Australië in om die werk te doen.

En dit was perfek vir die doel. Totdat Rooiputjie se kind agterkom dat die Oos en Wes Kaap die wonderlikste plek is om in te groei want hier is geen insek of dier in Suid Afrika wat help om sy populasie in stand te hou nie, en die weer is perfek.
Voëltjies vrek oor die sade en dit help versprei, en die plant neem die duine van die Kaap in met die spoed van ‘n vlugteling. Voordat enige persoon nog onraad kon vermoed verdring Rooiput al wat natuurlike bos is vir homself.

Ons sonliewende fynbos familie sukkel in sy skadu, en daarmee saam al die diertjies wat afhanklik is van fynbos vir voeding. Toe 1975 aanbreek het Rooiput reeds
300 000 hektar duineveld oorgeneem vir homself, en selfs meer na die binneland se sanderige rivier valeie versprei.

Oops !!
Om een plantjie wat begin groei uit te trek is doenbaar. Om ‘n hele duin skoon te maak sal ons ‘n dag se span met ‘n paar kragsae benodig. Maar ‘n skielike 300 000 hektaar met bome wat begin groei so vinnig soos wat jy hom afsaag is ‘n tamalekie.
Ander spesies as die Rooiput is ‘n groter ergernis soos byvoorbeeld die “Black Wattle” wat nou orals so mooi in die geel staan en blom. Hy’s oor die wêreld en reg deur Afrika al een van die 100 mees indringende spesies.
Onaangenaam, ongewens en onwelkom.

Nou het ons ‘n lysie. Die lysie is daar om vir ons te verduidelik hoe erg ‘n spesie in ‘n sekere area van ons land ‘n indringer geword het, en hoe ons daarmee kan help.
As elkeen sy bydrae lewer word ‘n probleem kind hanteerbaar.
Voorkoming is beter as genesing.

– Leani Kwekery 044 620 2565

Print Friendly, PDF & Email