INTERKERKLIKE VROUEKONFERENSIE

article-pic-1

Op die naweek van 2 en 3 September is weereens geskiedenis gemaak toe al die Christen-kerke in Stilbaai en Melkhoutfontein kragte saamgesnoer het en ‘n verrykende Maranata Vrouekonferensie aangebied het. Ten spyte van erge koue en reën, het nagenoeg 230 vroue die saamtrek bygewoon in die NG Gemeente se kerkgebou.

Marinda de Jager van Memel in die Vrystaat het die vroue geboei , gemotiveer en geinspireer om ons identiteit in God te vind. Haar kern-tema : “Ek is wat ek is, omdat die groot EK IS, in my is”. Die Ou Testament het opnuut betekenis gekry. God het tyd geskep en ons mensekinders binne-in Sy tyd neergesit vir ‘n bepaalde doel en tot verheerliking van Sy Naam. Juis daarom kan ons as Maranata vroue leef met ‘n ewigheidsperspektief en uitsien na Jesus se wederkoms.

Al die vroue het groot waardering uitgespreek teenoor Malinda van Niekerk en al haar helpers wat hierdie konferensie se wiele aan die rol gesit en glad laat verloop het. Ronel du Preez en haar span het gesorg vir aangrypende lofprysing en ywerige vroue het gesorg vir ligte etes en warm drankies vir koue lywe. Maranata Vrouekonferensie was ‘n lewensveranderende ervaring.

Print Friendly, PDF & Email

Leave a Reply