BUSY LIZZIE HUIS EN TUINBOUKLUB

foto-5

Stilbaai se Busy Lizzie Huis- en Tuinbouklub reik uit na bejaardes. Die BUSY LIZZIE HUIS- EN TUINBOUKLUB STILBAAI se volgende vergadering is Dinsdag 18 Oktober om 10:00vm by die Jagersbosch saal. Ons het twee gasprekers by die geleentheid.
Eerstens sal ‘n verteenwoordiger van Effekto ons inlig oor wat ons in hierdie tyd van die jaar te doen staan met bedrywighede in ons tuine. Ons sal kan aanklop vir raad met probleme wat voorkom en veral hoe om te verhoed dat sodanige probleme ontstaan. Bring gerus ‘n blaar of ‘n steggie van ‘n siek plant saam sodat ons almal kan leer hoe om dit te behandel as ons dalk ook daarmee te doen kry.

Die ander spreker is van Riversdal Toyota. Aangesien baie van ons dames dikwels alleen iewers heen reis, gaan hy ons inlig watter noodmaatreëls ons kan tref as ons probleme met ons voertuig langs die pad kry. Ons sal ook gewys word waarna ons moet omsien voordat ons ‘n reis aanpak.

Ons wil ook graag die inwoners van Stilbaai uitnooi om betrokke te raak by ‘n projek wat ons almal baie na aan die hart lê. Die Busy Lizzies het ook ‘n projek geloods om geskenkies vir die inwoners van HUIS STILBAAI bymekaar te maak vir Kersfees . Sulke geskenkies kan die basiese toilet benodighede asook ‘n lekker nie- bederfbare eetdingetjie bevat. Ons sal bly wees as die lede die pakkies mooi kan toedraai en kan saambring na ons Oktober en November vergaderings. Ons het reeds ‘n klompie geskenke ontvang, maar kort nog baie.

Daar is so baie bejaardes wat werklik niemand het om Kersfees met hulle te deel nie. Indien lede van die publiek kans sien om ons met hierdie projek te help, kan hulle die pakkies by Helena le Roux, BADENHORST-STRAAT 3, asook by Christa Kunz, KLOOFSTRAAT 14, afgee. In die verlede was daar groot waardering vir hierdie projek.  

Print Friendly, PDF & Email

Leave a Reply