STILBAAI SAPD

foto-2

Groot lof vir Stilbaai SAPD
Op Donderdag, 6 Oktober is daar by Jan en Ria Gouws se huis ingebreek. Die Gouws-egpaar is besigheidseienaars in die dorp en woon nog nie baie lank in Stilbaai-hoogte nie.
Tydens die inbraak het die verdagte met baie waardevolle artikels doodluiters die pad gevat. Maar helaas……… Hy is die Saterdagoggend vasgetrek in Kwanakatula en in hegtenis geneem. Die verdagte het Maandagoggend in die Riversdalse landdroshof verskyn. Die saak is uitgestel tot Vrydag en kom voor in die Stilbaai Landdroshof.
Mevrou Gouws het aan Hesssequa Nuus gesê dat dit alleenlik deur die flinke en vinnige optrede van die SAPD was dat die verdagte sy rieme styf geloop het. Sy het ook genoem dat die verdagte, wat ’n burger van Lesotho is, heel moontlik sou weggekom het met die diefstal as dit nie was vir die polisie van Stilbaai se vasberadenheid om hom te vang nie. Sy het haar en haar man se opregte dankbaarheid teenoor die Stilbaai se polisie uitgespreek.
Die polisie het die meerderheid van die gesteelde items terugbevind. Slegs ’n paar juweelstukke word nog vermis.
Die Gouws-egpaar het ook hul dank uitgespreek teenoor die loodgieters wat in die nabyheid werksaam was en wat leidrade aan die polisie verskaf het.
Nog ’n voorbeeld van die plaaslike polisie-amptenare se opmerksaamheid is gedurende dieselfde week bewys toe ’n leser laat weet het dat hy om 03h15 die oggend wakker gemaak is deur die polisie om hom in te lig dat sy motorhuisdeur oopgestaan het. Nadat hulle seker gemaak het dat alles in orde was, het hulle gery om verder patrollie te doen. “Net in Stilbaai” het hy laat weet.

Print Friendly, PDF & Email

Leave a Reply