JONGELING

(Gedig Deur Bernard Fielies)

Jongeling, verdwaald en vroeg verinneweer,
deur die wereld se demone gedirigeer…
Sonder respek en nog nat agter die ore,
gaan jy in die skadu van dwaasheid verlore…
Deur die geluide van gruwels word jy gelei
en by die kamers van uitkoms loop jy verby…
Al jou dade fabriseer net hartseer en vrees
en jy dans na die pype van ‘n bose gees…
Jongman, sonder skaamte en ongemanierd;
jy verbeel jou jy is die baas van jou buurt…
Met ‘n broek wat hang en ‘n “gun” in jou hand,
paradeer jy soos die koning se kalant…
In slapelose nagte wat jy jou ouers bied,
verorber hulle jou verfoeisels met verdriet…
Jou doen en late dryf hul na mismoedigheid,
want bloedjonk wil jy “backchat” en self besluit…
Jy spog met jou “tjappies” en die “drugs” in jou sak,
maar eintlik is jy nou net ‘n “nul-op-kontrak”…
Jou reis is rampspoedig en jou nommer tot niet;
in jou “gangster”-gange word net trane gegiet…
Jongdame, jy wat jou liggaam so verkoop;
in jou afstootlike gedrag skuil geen hoop…
Jou verslawing ontstel en jou gesindheid skaad,
maar wederstrewig en “slim” met jou SASSA-kaart…
Jongeling, o jongeling; ons wonder en ween…
Waarna hunker jy graag en waar gaan jy heen?
Verander jou gedagte en keer terug
en bereik nuwe hoogtes in God se lig…
Verslete en verlore…in vullis vasgevang,
maar vandag stel God steeds in jou siel belang…
Met Sy liefde word jou leemte dan gevul
en jou ouers se snikke summier gestil.
In die fleur van jou lewe, laat ons probeer,
om jou duisternis met helderheid in te kleur…
Jongeling, kom saam na daar waar kommer kwyn; daar is vir jou ‘n plekkie waar die son nog skyn…

072 271 9205
076 902 8468
bernardfielies35@gmail.com

Print Friendly, PDF & Email

Leave a Reply