LANGNEKSTORIES

Baron van Groot Vogel is van die eerste aankomelinge op Tuinplaas. Waar die titel “Baron” vandaan kom kon niemand met sekerheid sê nie , maar dat hy ‘n baie gesiene man is met groot aansien en bewondering kan niemand oor stry nie. (Daar word beweer dat daar iewers in die verlede ‘n paar blink klippies op sy pad gelê het en of hy hulle nou opgepik en ingesluk het kan niemand met sekerheid sê nie, so ons laat die gordyn oor die verlede sak) .

‘n Verkiesing word uitgeroep en die man wat alles hanteer, is natuurlik die Baron. Hy hanteer self die stembriewe , want niemand anders is bevoeg om dit te doen nie. Sommige stembriewe vul hy sommer self in , want baie van die Vogels kan nog nie lees of skryf nie. Toe dit by die tel van stemme kom hanteer hy ook sommer die ou spulletjie met gemak.

Na afloop van die stem telling word Baron von Vogel as die eerste President verkies. Hy wen loshande die eerste demokratiese verkiesing.

Die parlement moet nou saamgestel word. Baron verteenwoordig die o.v.v.k. (onafhanklike voël verkiesingskommissie) en die eerste minister wat aangestel word is ‘n dame met die naam van Marilyn. (Haar grootste bate natuurlik haar lyf en haredos). Sy word aangestel as Minister van almal se sake.

Die volgende aanstelling is Blitzvogel met die bynaam van Slakkie , want hy was nog nooit die skerpste potlood in die pakkie nie , maar ‘n dierbare voël. Hy word minister van ontwikkeling, vermeerdering, vinnige aanwas van getalle en behuising genoem. Hy is nou wel bietjie stadig maar baie betroubaar.
Daar word nou hard gewerk om al die owerhede in kennis te stel van die Republiek genaamd R.O.A.R (Royal Ostrich Ancestral Republic) wat vir die vogels op Tuinplaas gestig is.

Daar is baie briewe wat moet uitgaan en baie administratiewe werk wat gedoen moet word. Baron het ‘n hele paar sekretaresses aangestel om te help. Die keuring van die dames is deur hom behartig en onnodig om te sê hulle is almal iets vir die oog, want die beeld wat hy na buite moet uitsit moet goed lyk.
Almal op Tuinplaas is gelukkig. Vir sommige gaan dit bietjie vinnig en almal hou nie mooi by met al die verwikkelinge nie , maar hulle het baie vertroue in hulle President. R.O.A.R is die beste ding wat met hulle kon gebeur. Hulle rek hulle nekke net al hoe langer en tel hulle koppe ekstra hoog op en jy sal nie sommer daardie gelukkige glimlagte afgevee kry nie.

Tot volgende keer.
Groete van huis tot huis.
Vollie Volstruis

Print Friendly, PDF & Email

Leave a Reply