HOORSPEL DEUR PLAASLIKE SKRYWER

Heidelberg skrywer Wim Vorster se eerste radiodrama Gesigseinders word op Donderdag, 15 Junie om 20:00 op RSG uitgesaai.

Die hoorspel het sy ontstaan aan personeel van Kaleidoskoop (voorheen die Instituut vir Blindes) te Worcester te danke. Hulle het spesiaal in 2015 Heidelberg toe gery en gevra vir ‘n eenbedryf oor blindes wat deur blindes self aangebied kan word. Vorster het summier ingestem. Die teks het hulle baie opgewonde gehad, maar die aangewese persone om die rolle te vertolk, is nie so maklik om te kry nie.

Kobus Burger, hoof van drama en vervolgverhale by RSG, het einde Desember 2016 vir Vorster gevra om een van sy toneelstukke vir die 2017 dramaseisoen as hoorspel te verwerk. Aanvanklik het die skrywer besluit op’n ander werk maar algou besef die inhoud is hoegenaamd nie geskik vir die radio nie. Hy het gereken dat Gesigseinders die aangewese teks is, des te meer omdat dit nog toe nie op die verhoog aangebied is nie. Burger was onmiddellik daarvoor te vinde, veral toe Vorster aan hom verduidelik het die teks gee insae in die lewe van blindes en al hulle wel en weĆ«, maar dit is nie net ‘donker’ nie. Nes siende mense, terg en skerts en redeneer blindes. Burger het gemeen dat daar hierdeur aan blindes ‘n diens en ‘n guns bewys kon word.

Vorster het die stuk uitgebou en die karakter van suster Tilana, een van die personeellede van die instituut waar die karakters woon, bygevoeg. Sy bring ‘n verdere dimensie en haar eie sin vir humor aan die verhaal en die gegewe.

Gesigseinders is in die Kaapstadse ateljee van RSG opgeneem onder spelleiding van die meer as bekwame en begaafde Margot Luyt. Die ses karakters word deur eweneens gesoute en bekende spelers vertolk, te wete Carel Trichardt, Petru Wessels, Amor Tredoux, Juanita Swanepoel, Erik Holm en Ronel Geldenhuys is suster Tilana. Almal was dit eens dat dit ‘n voorreg en ‘n vreugde was om deel van die produksie te wees. Die hoorspel word dan ook heel gepas aan Kaleidsokoop opgedra. (Irma Huysamer)

Print Friendly, PDF & Email

Leave a Reply