PERSOONLIKHEID VAN DIE WEEK

Petra is Jagersbosch. Vandat sy agtien jaar gelede, in 1999, hier begin werk het, het die sentrum met rasse skrede gegroei. Sy bestuur hierdie organisasie met deernis, moed en dankbaarheid.

Kon julle nog altyd die salarisse van die werknemers betaal?
Daar is wel ‘n kroniese tekort aan geld maar genadiglik kon ons elke maand ons werkers se salarisse betaal. Ons werk nie vir profyt nie maar om ons dienste aan die gemeenskappe van Stilbaai en Melkhoutfontein se ouer inwoners toeganglik te maak.

Wat is jou posbeskrywing?
Ek bestuur die organisasie.

Neem nuwe lede toe?
Ja, daar sluit gedurig nuwe lede aan. Ons het tans 950 lede en lewer diens aan 500 mense per maand. Die ledetal in Melkhoutfontein is 70.

Hoe bemark julle hierdie sentrum/ organisasie?
Hoofsaaklik mond tot mond aanbevelings. Volgende jaar sal daar aan bemarking meer aandag gegee word.

Wat is kortliks jou geskiedenis voor Stilbaai?
Ek het BSc Huishoudkunde geswot, ‘n ruk skoolgehou en klasgegee en kort voor lank het ek en Alex Stilbaai toe getrek. My ma, Babs, bly in Stilwaters. Die pos vir bestuurder van hierdie organisasie is geadverteer. Ek is eers aangestel as voedselbestuurder en na ‘n paar maande as bestuurder.

Waarmee sal jy tevrede wees?
As ek elke aand kan gaan slaap en te weet Jagersbosch is in bekwame hande.
Wat is jou doel op aarde?
Ek wil net gelukkig wees in die uitvoer van my roeping.

Waarna sien jy uit?
Om oor ‘n jaar of vyf meer tyd saam met my man Alex deur te bring, om te verf, te lees en Stilbaai te geniet.

Wat weet die inwoners van Stilbaai en Melkhoutfontien nie van Jagersbosch nie?
Die gemeenskapsorgsentrum het onstaan uit ‘n behoefte van afgetredenes van die omgewing. Die behoeftes word aangespreek deur opgeleide susters wat bloeddrukmetings doen en bedsorg aan huis verskaf.
Ons bring etes aan bejaarde lede en inwoners na hul huise, elke dag van die week tot Sondae. Vrywilligers lewer hierdie diens. Dit kos slegs, vanaf hierdie jaar, R100 per jaar om lid te word van Jagersboch. Daar is geen ouderdomsbeperking nie. Die jeugouderdom geld net vir gestremdes.

Vertel iets van die geskiedkundigheid van die gebou waarin ons nou sit.
Die Munisipalitiet van Stilbaai het in 1988 toestemming verkry om ‘n gedeelte van die plaas Jagersbosch vir R100 000.00 te koop.
Die huis op die plaas, tans die hoofdienssentrum, was toé 140 jaar oud. Die opstal, wat die adminkantore is, se restourasie, is deur vrywilligers van tussen 78 en 75 jaar – dertig van hulle, binne een jaar voltooi.
Die Jagersbosch farmstead in is in 1991 as nasionale monument verklaar.
Soeterus Gemeenskapsentrum in Melkhoutfontein het ook uit hierdie organisasie ontstaan.
Daar is ‘n skuiling vir haweloses in Melkhoutfontein. Hierdie skuiling is aan Jagersbosch Gemeenskapsorgsentrum oorgedra.

Wanneer is die stalletjies by die Waenhuis?
Die Waenhuis is ‘n buitekombuis. Uit hierdie kombuis kom al die etes wat aan lede verskaf word.
Die Buitekombuismark in die Waenhuis is elke eerste Saterdag van die maand. Daar is altyd plek vir nog intrepeneurs om hul handewerk en produkte te kom verkoop.

Waarvoor staan NPO?
Non Profit Organisation.

Hoe funksioneer die Stilbaai Gemeenskap en Jagersbosch?
Die een hand was die ander.

Hoe sal jy Stilbaai beskryf?
Dit is ‘n unieke dorp wat vra vir unieke diens en dit gee ons met sorg en liefde.

Petra: 082 9555940

Print Friendly, PDF & Email

Leave a Reply