Dit is amper weer somervakansie, die tyd van die jaar wanneer besoekers na die goue strande langs die Suidkus stroom om die son te geniet en moontlik die waagmoed bymekaar skraap om die koue seewater aan te durf. Vir sommige is dit ‘n tyd van aktiwiteite en avontuur, vir ander ‘n welverdiende blaaskans na ‘n jaar se harde werk. Die seisoen is ook ‘n tyd van jolligheid en selfs uitbundigheid en feesviering, veral vir diegene wat ‘n drankie geniet.
Hessequa Munisipaliteit verwelkom talle besoekers tydens die feesseisoen na die pragtige blouvlagstrande in die streek. Die Munisipaliteit moet egter sorg dat orde geskied op die strande en alle persone gelyke kans gebied word om die kus te geniet. In die verband is daar een euwel wat aangespreek moet word: alkohol op strande. Die Hessequa Munisipaliteit se Verordening insake Openbare Geriewe, artikel 12(1)(g) bepaal dat: Niemand mag op enige strand ‘n vuur maak of alkohol gebruik nie.
Oortreding van die bogenoemde is strafbaar met ‘n boete van R1500.00, wat ’n lelike hap kan neem uit enige vakansieganger se beursie. Die Munisipaliteit versoek alle vakansiegangers om nie alkohol op die strande te gebruik nie. Alkohol en swem is nie versoenbaar nie.
Mense wat alkohol wil gebruik voordat hulle agter die stuurwiel inskuif, moet rekening hou met hoeveel alkohol wat hulle inneem. Die wettige hoeveelheid alkohol per 100 ml bloed is verlaag na 0,05% m.a.w. een bier of twee glase wyn kan bestuurders die voorgeskrewe vlakke laat oorskry.
Tel: 028 713 7953